Local newsNews

”n Staatmaker-span het agter my gestaan’

Hy was vir bykans 30 jaar by die Parys-speurtak.

Parys Speurtak het die afgelope twee jaar die toekenning ontvang as beste speurtak in die Fezile Dabi-distrik. So ‘n toekenning kom nie vanself nie. “Dit is die werk van ‘n staatmaker-span,” sê ‘n trotse Luitenant-kolonel Gert Bruwer, bevelvoerder van die tak.

Bruwer is die afgelope week bevorder van ‘n kapteinsrang na Luitenant-kolonel, en sluit op 1 Desember by die Potchefstroom-speurtak aan in sy nuwe pos as groepleier. Vir Bruwer was van die beste jare in sy 35 jaar in die polisiediens in Parys danksy sy span speurders.

‘n Goeie speurder moet gedissiplineerd en pligsgetrou wees, voeg hy by, en dit sien jy by dié man wat ‘n gebore polisieman is, en onder wie se vel dié dorp en sy mense lê.

Bruwer het in Parys se buurdorp, Vredefort, grootgeword en skoolgegaan, en het na skool by die polisiediens aangesluit. Hy was aanvanklik by die polisie se destydse Onlus- en Geweldsmisdaadeenheid in Vanderbijlpark. Met sy pa se dood het hy gevra vir ‘n oorplasing na Vredefort waar sy ouers geboer het. Vredefort het nie ‘n speurtak gehad nie, en het hy ‘n pos by die Parys-speurtak gekry.

Hy begin hier as konstabel en word gou bevorder na sersant en later adjudant-offisier.

In 2016 word hy kaptein, en kry die aanstelling as bevelvoerder van die speurtak. Hy het die bevelvoerderspos by luitenant Richard Molambo oorgeneem.

Vroeër jare was Parys en Tumahole se speurders saam by een tak, totdat Tumahole sy eie speurtak in 2001 gekry het. Parys-speurtak het tans 11 ondersoekbeamptes.

“Uitdagings is baie groter as jare gelede,” vertel Bruwer. Vroeër jare sou ‘n ondersoekbeampte by die speurtak nooit meer as 30 dossiere gehad het nie. Vandag het ondersoekbeamptes by die tak gemiddeld tussen 80 en 100 dossiere.

“Anders as vandag was daar vroeër baie beriggewers en reserviste en was gemeenskappe meer betrokke om die hand van die polisie te sterk,” sê hy. “Fietse was die ergste wat gesteel was toe ek by die speurtak aangesluit het,” vertel Bruwer verder. Deesdae is van die groot kopsere oorgrens misdaad en dwelmverwante misdaad. Die invloei van mense veral oor naweke en vakansies dra ook by tot misdaadsyfers. So ook die gedeelte van die N1 wat ook deur Parys SAPD bedien word en waar kapings en diefstal veral van vragmotorbande en vrag gereeld gesien word.
Oor jare het hy al baie skokkende en hartseer tonele as speurder gesien. “Jy word hard met die tyd, maar jy leer ook die vermoë om alles waar te neem, maar om nie elke toneel na jou hart toe te vat nie,” sê hy.

Hy was destyds net ‘n week by die speurtak toe ‘n ondersoek na ‘n plaasaanval op ‘n egpaar gedoen moes word.

“Op ‘n stadium het Parys-speurtak ‘n 100% oplossyfer vir moord gehad,” vertel Bruwer.

Hy het vir jare die gemeenskap van Parys gedien, en weet jy wanneer Bruwer einde November die Parys-speurtak groet, laat hy meer as net kollegas agter. Hy groet ‘n familie wat vir jare as gedugte span saamwerk.

Die bevelvoerderspos van die Parys speurtak sal geadverteer word.

* Baie geluk ook aan kaptein Semela wat ook bevorder is en eersdaags in sy nuwe pos in Sharpeville sal begin.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button