Ottosdal-plaasmoord: Borgaansoek volgende week gehoor
Die polisie sê daar word steeds gesoek na 'n derde verdagte.
Die twee mans wat aangekla is van die moord op die 55-jarige Hannetjie van Zyl, sal weer Dinsdag 20 Oktober voor die landdroshof in Ottosdal verskyn vir ‘n formele borgaansoek. Die 28-jarige Martin Boitumelo Mosime en die 29-jarige Sekwaage is steeds in aanhouding, en staan benewens die moordklag ook tereg op ‘n klag van roof.
Polisiewoordvoerder kolonel Adéle Myburgh het na vanoggend se hofverskyning gesê die soektog na ‘n derde verdagte wat verbind word met die moord duur voort.
Hannetjie is op 5 Oktober by ‘n plaashek op die Doornpan-pad buite Ottosdal oorval toe sy uit haar motor geklim het om die hek oop te maak. Sy is herhaaldelik met ‘n ysterpyp aangerand. Haar selfoon en handsak is deur haar aanvallers geroof.
Haar man, Sarel, het op haar bebloede liggaam afgekom en is sy in ‘n kritieke toestand na die hospitaal gehaas. Hannetjie het egter kort daarna gesterf.
Sy het vir baie jare in Absa in Wolmaransstad gewerk.
Hannetjie en Sarel het op die plaas Doornpan sowat 17km buite Ottosdal gewoon.
Die wrede aanval wat haar lewe gekos het, was die tweede aanval op haar en haar man binne ses jaar.



