Local newsNews

Sangskool-toekenning vir singende dokter

Die toekenning word die afgelope drie jaar deur die Sangskool tydens die gala-konsert gemaak.

Dr. Walter Bell is by vanjaar se Gala-konsert van die Stéfan Louw Sangskool, as Student van die Jaar aangewys. Sy vennoot en vriend, dr. Gerrit Gouws, wat die toekenning in 2023 ontvang het, het die trofee aan dr. Bell oorhandig.
Die toekenning word die afgelope drie jaar deur die Sangskool tydens die gala-konsert gemaak.
Dr. Walter Bell (links) saam met dr Gerrit Gouws wat in 2023 die Sangskool-trofee ontvang het as Student van die Jaar
“Elkeen van my studente het hard gewerk en goeie vordering gemaak. Dit was vir my ongelooflik moeilik om te besluit wie die toekenning ontvang,” het Louw by die gala-konsert gesê wat vanjaar as een van die bestes nog beskryf is.
Die konsert is op 8 November in die NG Suid-saal gehou en het ‘n uitstekende programsamestelling gehad van liedere wat by elke student se unieke stem gepas het.
Vanjaar was die vyfde jaar dat die konsert aangebied is om sangskoolstudente die geleentheid te gee om hul talente met die gemeenskap te deel.
Vanjaar se jongste deelnemer was die matrikulant, Lisa Venter. Haar uitvoerings van Billie Eilish se Lovely en Adele se Skyfall het die gehoor betower. Die oudste student, ‘n 74-jarige mielieboer van Viljoenskroon – Ken Evans – het vir die eerste keer ooit voor ‘n gehoor opgetree. Hy het net meer as ‘n jaar gelede by Louw begin les neem. Sy weergawes van Joni Mitchell se Both Sides Now en They Call the Wind Mariah van die 1951 musiekblyspel Paint Your Wagon, was iets besonders om te hoor.
Susan Venter, ‘n oudioloog met praktyke in Sasolburg en Parys, het die gehoor bekoor met haar Franse liedere La Vie en Rose asook Sous le Ciel de Paris.
Werner van Coller, ‘n geliefde Viljoenskroner wat die afgelope jare naam gemaak het in Parys en Vredefort, het sy laaste opvoering saam met sy medestudente gehad. Met sy warm bariton stem het hy ‘n uitstekende vertolking van Wien, Wien, Nur Du Allein gesing. Hy verhuis aan die einde van November na Hermanus in die Wes-Kaap, waar hy sy beroep as ‘n apteker na die volgende vlak neem. Lappies Labuschagne, wat etlike jare by die sangskool is, se tenoorstem het die gehoor bekoor met Any Dream Will Do uit die musiekblyspel Joseph and The Amazing Technicolour Dreamcoat, en John Knox Bokwe se Seën vir Afrika.
Parys se twee singende dokters, Gerrit Gouws – ‘n bas – en Walter Bell – ‘n tenoor – het onderskeidelik If I Were A Rich Man en Sound of Silence asook Liedjie vir Jou, Empty Chairs and Empty Tables, en Voshaarnooi gesing.
Stéfan Louw, wat bekend is vir sy besonderse opera uitvoerings oor die afgelope 30 jaar, het in September sy nuutste album – The Book of Elvis, A Legacy Of Song – vrygestel. Vir die Gala Konsert het hy een van die liedere op sy album, Elvis Presley se American Trilogy, gesing. Dié lied het ‘n staande applous van die gehoor ontvang.
Soos gewoonlik, stel die studente van die Stéfan Louw Sangskool in Parys nooit teleur nie. “Dit maak nie saak of jy jonk of oud is en of jy dink jy is toondoof nie – as jy bereid is om hard te werk, kan ek jou leer sing,” sê Louw.
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button