Twee sterf in botsing onderweg na inisiasieskool
Ons diepe medelye met die familie van die oorledenes.

‘n Man en vrou is dood en verskeie beseer na ‘n botsing vanoggend op die R57 tussen Kestel en Qwaqwa.
Die ongeluk het om ongeveer 09:00 gebeur toe die bakkie wat seuns van Kestel na ‘n inisiasieskool in Qwaqwa vervoer het, omgeslaan het, is in ‘n verklaring deur die Vrystaatse Departement van Gesondheid bevestig.
Benewens die bestuurder van die bakkie en sy vrou wat in die ongeluk oorlede is, is 12 pasiënte na die Elizabeth Ross-hospitaal vervoer met geringe beserings. Dié pasiënte is almal tussen 18 en 29 jaar oud, het die departement gesê.
Vyftien pasiënte is ook na die Mofumahadi Manapo Mopeli streekhospitaal geneem. Dié pasiënte is almal tussen 17 en 37 jaar oud. Van die 15 pasiënte is agt opgeneem en vier is reeds ontslaan.
Drie pasiënte is ook na Busamed en die Hoogland Mediclinic vervoer.



