Rowers drup warm water op man tydens huisroof net dae na gewelddadige plaasaanval by Venterdorp
Vier van die vyf verdagtes wat 'n week gelede die 50-jarige Donovan Marx op sy plaas buite Ventersdorp aangeval het, het ook vanoggend voor die hof verskyn.
Skaars ‘n week na die brutale aanval op die 50-jarige Donovan Marx, ‘n beesboer van die Ventersdorp-distrik, is ‘n egpaar van Broederstroom in die Noordwes-provinsie in hul huis oorval en beroof.
Volgens sersant Kelebogile Morake, polisiewoordvoerder vir die Noordwes-provinsie, het drie onbekende verdagtes die egpaar wat onderskeidelik 67 en 68 jaar oud is, van vuurwapens, elektroniese toerusting en ander waardevolle besittings beroof.
Volgens inligting het die verdagtes met klapmusse na bewering Sondagaand, 1 November by ’n hout-skuifdeur wat nie gesluit was nie, toegang tot die woning verkry.
Hulle wou geld hê, en beweer dat hulle geweet het een van die inwoners bedryf ’n kiosk by ’n nabygeleë oord, het Morake gesê.
Die verdagtes het daarna na bewering toegang tot ’n kluis verkry en sewe vuurwapens van verskillende kalibers, tesame met ammunisie, gesteel. Al die vuurwapens was volgens berigte op die manlike slagoffer se naam gelisensieer.
Die verdagtes het na bewering ook twee selfone, ’n skootrekenaar, kontant en ander persoonlike besittings gesteel voordat hulle van die toneel gevlug het.
Die man het mediese hulp vir sy beserings by ‘n dokter ontvang nadat die verdagtes hom gedreig en warm water op hom laat drup het in ’n poging om inligting uit hom te kry.
Die Noordwes-provinsiale polisiekommissaris, luitenant-generaal Arthur Peter Adams, het die voorval ten sterkste veroordeel en gemeenskapslede gemaan om waaksaam te bly en hul veiligheid eerste te stel.
Adams het ook gesê dit is kommerwekkend dat misdadigers steeds kwesbare lede van ons gemeenskappe in die veiligheid van hul eie huise teiken. “Ons veroordeel sulke dade van geweld en intimidasie ten sterkste en doen ’n beroep op gemeenskapslede om hul veiligheidsmaatreëls op te skerp en nou saam met die polisie te werk deur enige verdagte aktiwiteite aan te meld. Ons sal voortgaan om ons pogings te verskerp om te verseker dat diegene wat vir hierdie misdade verantwoordelik is, aan die pen ry.” het Adams bygevoeg.
Die polisie ondersoek ‘n klag van huisroof. Niemand is nog in hegtenis geneem nie.
Enigiemand met inligting wat die ondersoek kan help, word versoek om die ondersoekbeampte, ao. Gregory Kwadi van die Hartbeespoortdam-polisie se speurtak, by 082 373 9636 te kontak.
Aanvallers van Donovan Marx voor die hof
Vroeër vandag het vier van die vyf mans wat die naweek gearresteer is vir die brutale aanval op die 50-jarige Donovan Marx, op sy beesplaas by Syferfontein buite Ventersdorp op Woensdag 28 Oktober, in die Ventersdorpse landdroshof verskyn. Die vyfde verdagte wat 26 jaar oud is, sal as staatsgetuie in die saak optree.
Die verdagtes wat vandag voor die hof verskyn het, is Alex Phimdile Nomngcayi (29), Mothoka Godfrey Mathipa (56), Mokhema Jan Maishone (53) en Thabo Thomas Motlhonglong (27). Hulle sal weer op 13 November voor die hof verskyn en bly in aanhouding. Klagtes teen hulle sluit in huisroof, poging tot moord en die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie.

Die verdagtes is vasgetrek ná intensiewe ondersoek- en operasionele werk, het kolonel Adéle Myburgh, woordvoerder van die polisie in Noordwes oor die naweek gesê.
Marx is die oggend om 08:30 op sy plaas aangeval. Gewapende mans wat klapmusse gedra het, het van agter die plaashuis te voorskyn gekom en hul vuurwapens op een van die plaaswerkers gerig het wat besig was om gras te sny. Hy is met kabelbinders vasgebind en na die agterkant van die huis geneem.
Toe Marx met sy enkelkajuit Isuzu-bakkie by die huis kom, is twee van die verdagtes na hom toe en is hy in die bolyf geskiet.

Sy aanvallers het hom daarna die huis binnegesleep, sy hande en voete met kabelbinders vasgebind en is hy tydens die marteling onder meer ook met ‘n mes gesteek en sy ore afgesny.
Die verdagtes het die huis deursoek en drie vuurwapens uit ’n kluis geneem voordat hulle met Marx se rooi Isuzu-bakkie van die toneel gevlug het.
Marx word steeds behandel in ‘n Potchefstroomse hospitaal. Die koeël het deur sy nier beweeg, terwyl ’n besering aan sy dikderm genoodsaak het dat ’n gedeelte daarvan chirurgies verwyder word. Hy het ook ’n messteekwond aan sy been opgedoen.
Sy ore kon nie chirurgies gered word nie. Die moontlikheid van prostetiese oorrekonstruksie kan in die toekoms oorweeg word, afhangend van verdere mediese evaluering en sy herstel, is vroeër gesê.



