Local newsNews

Bywet oor vuurwerke steeds nie ‘wet’ nie

Tans moet inwoners hulle verlaat op algemene nasionale bywette

Hoewel die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit meer as twee jaar gelede in Mei 2022 tydens ‘n raadsvergadering ‘n munisipale bywet aanvaar het wat na promulgasie die besit, verkoop en afvuur van vuurwerke in die munisipale gebied sou kon reguleer en beheer, is dié bywet steeds nie in die provinsiale Gazette gepubliseer nie. Gevolglik laat dit ‘n dilemma vir wetstoepassers, veral nou in die feestyd, wanneer bywette kon help om riglyne vir kwessies soos hierdie binne munisipale grense te stel.
Daar is wel met die laaste raadsitting aangedui dat ‘n dringende spesiale raadsitting geroep sal word om onder meer aandag te gee aan munisipale bywette.

Rdl. Van der Merwe wat ook ‘n prokureur van beroep is, was instrumenteel in die saamstel van die bywet wat in 2022 aanvaar is nadat hy ‘n ou beleidstuk wat geen strafmaatreëls bevat het nie, verwerk en omskep het in ‘n konsep bywet wat na promulgasie daarvan die gebruik van vuurwerke sal beheer.

Dit is algemeen bekend dat die skiet van klappers nie alleen ‘n traumatiese effek op veral honde het nie, maar ook deur vele inwoners as steurend ervaar word. Die bywet, sou dit gepromulgeer word, sal voorsiening daarvoor maak dat enige persoon of instansie wat vuurwerke wil afvuur of verkoop binne die munisipale gebied, dit slegs sal kan doen op aansoek, en nadat ‘n permit wat dit magtig, deur die munisipaliteit uitgereik is. Handelaars van vuurwerke sal dan ook benewens hul aansoek en geskrewe goedkeuring van die munisipaliteit, steeds in besit moet wees van die toepaslike lisensie soos vereis deur die Wet op plofstowwe.

Hoe sou die bywet kon help?
‘n Boete van tot R10 000 of gevangenisstraf van tot 12 maande kan volgens die bywet deur die hof opgelê word by skuldigbevinding van ‘n oortreding van die bywet wanneer dit van krag word. Die afvuur van enige tipe vuurwerke (wat as plofstof gesien word), word wel steeds beheer deur die Plofstofwet 26 van 1956 wat landwyd sonder uitsondering van toepassing is, maar sou die promulgering van die bywet vir Parys deurgevoer word, sal dit wetstoepassers se hande aansienlik sterker maak.
Die vraag is egter, sou die bywet in plek gestel word, wie die munisipaliteit sal kry om seker te maak dit word nagekom. Vroeër het munisipale verkeersbeamptes die funksie vervul.

Die polisie self sit met die uitdaging van beperkte mannekrag en voertuie, en het reeds hul hande vol veral oor Kersfees en Nuwejaar, wanneer daar tradisioneel meer padblokkades gehou word, en polisiëring nodig is by groot byeenkomste soos op 24 Desember by Mimosa Tuine.

Hoewel vuurwerkhandelaars steeds die nodige permitte moet hê, is daar soveel handelaars en straatverkopers wat wetstoepassing bemoeililk.

Die polisie konfiskeer jaarliks vuurwerke by handelaars wanneer nie aan wetsvereistes voldoen word nie, maar dit is net die spreekwoordelike druppel in die emmer.

Die polisie stel daarom voor dat inwoners, sou hul handelaars sien wat vuurwerke verkoop wat nie in ‘n glaskas toegesluit is nie, of onder ‘n toonbank gehou word sonder ‘n sigbare geldige permit, dit by die polisiestasie se vuurwapenlisensie-afdeling sal rapporteer.

Hoe affekteer vuurwerke diere?
Diere se gehoor is baie beter as dié van mense. Waar mense tussen 20Hz en 23KHz kan hoor, hoor honde 60Hz tot 45KHz, en katte 45Hz tot 64KHz.

Dit beteken dat katte dus klanke kan hoor wat minstens twee en ‘n half oktawe hoër is as wat mense kan hoor.
Dit is ook waarom katte en honde reageer op fluitklanke. en waarom diere so bang is vir die geluid van vuurwerke
Die plofstofwet

Kyk jy na die plofstofwet word die afvuur van vuurwerke in ‘n gebou, of in enige openbare plek of oord onder meer verbied as daar nie vooraf geskrewe toestemming deur die plaaslike owerheid is nie. Daar word verwys na uitstallings van vuurwerke op persele wat nie gedoen kan word sonder die nodige permitte nie, waarvoor daar duidelike voorwaardes is, en die oortreding hiervan as kriminele oortreding uitgewys word.

Verder is daar streng regulasies oor die handel met vuurwerke waarvoor permitte nodig is.

Selfs al sou ‘n handelaar ‘n permit hê, kan die vuurwerke nie geskuif word na ‘n straatstalletjie of waar die publiek dit kan hanteer nie.

Daar is duidelike reëls oor verpakking, en bepaal die wet dat kinders onder 16 nie ‘n permit kan kry om vuurwerke te hanteer of te gebruik, sonder volwasse toesig nie.

Waar dit kom by die afvuur van vuurwerke op private eiendom, en die wettigheid aldan nie daarvan, is dit weereens plaaslike regulasies wat die deurslag kan gee.

Tans moet inwoners hulle verlaat op algemene nasionale bywette wat onder meer bepaal dat vuurwerke nie binne 200m vanaf hospitale, klinieke, vulstasies, ouetehuise, verpleeginrigtings of by diereversorgingsplekke afgevuur mag word nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button