Dwelmhandel: Ses se borgaansoeke gehoor
Die Valke het 'n groot deurbraak gemaak met die arrestasie van die ses verdagtes in Parys na 'n lang en uitgebreide ondersoek.
Die ses beskuldigdes wat in Desember na ‘n uitgebreide ondersoek deur die Valke in die Vrystaat se eenheid vir Georganiseerde Misdaad Ondersoeke, in hegtenis geneem is vir dwelmhandel, het vandeesweek voor die hof verskyn vir formele borgaansoeke.
Uitspraak in die borgaansoek van Stanley Itesium (38) en Peter Owiredu (46) teen wie daar vier klagtes is, is uitgestel na getuienis teen hul borgaansoeke gehoor is. Ndibusi Ignatius Ihenachu en John Okori(36) teen wie daar vyf klagtes is, sal weer op 22 Januarie in die hof verskyn vir hul borgaansoeke. Sylvestor Nwite (33) en Rashied Hendricks (24) wat tereg staan op vier klagtes, sal ook weer op 22 Januarie in die hof wees. Hendricks het reeds borg van R2 000 gekry, het die Valke bevestig.
Die Valke ondersoekspan, gestasioneer in Welkom, het in April 2022, inligting gekry van drie verdagtes in Parys wat na bewering betrokke is by dwelmverspreiding in die Fezile Dabi-distrik. ‘n Uitgebreide en lang ondersoek het daarop gevolg en is mense geïdentifiseer, en ‘n modus operandi van die verdagtes bepaal.
Daar kon toe ook vasgestel word watter dwelms versprei word. Maatreëls is in plek gestel, en toestemming gekry vir die polisie operasie wat uiteindelik tot die arrestasie gelei het.
Gemeenskapslede het Maandag voor die hofgebou in die straat met plakkate gestaan om te vra dat borg nie aan die beskuldigdes gegee sal word nie. Daar is gesê dat dwelmmisbruik en dwelmhandel ‘n groot probleem in alle gemeenskappe is wat mense se toekoms vernietig.





