“Ek kan nie glo sy was die hele tyd net hier naby die huis nie”
Gered na 11 da in mangat
Zara, die Duitse herdershond wat op 15 Januarie soek geraak het, is Sondagoggend in ‘n oop mangat gekry, in die park regoor die Parys Distrik-hospitaal se hoofingang waar sy 11 dae gelede soek geraak het.
“Ek kan nie glo sy was die hele tyd net hier naby die huis nie,” het haar eienaar, Lourens Erasmus Sondag gesê. Sedert haar verdwyning het hy alles moontlik gedoen om haar te vind, maar dit was uiteindelik danksy ‘n personeellid van die provinsiale ambulansdiens wat haar in die mangat hoor blaf het, en toe gaan aanklop het by ‘n huis naby die park, wat daartoe gelei het dat Zara en Lourens herenig is.

Lourens vertel dat hy naby die park woon en gereeld daar gholf oefen met Zara aan sy sy. Die dag van haar verdwyning het sy oudergewoonte die park verken, en vir van die honde by huise om die park geblaf, terwyl hy geoefen het. Die mangat wat nie agter die lang gras sigbaar is nie, was altyd toe, maar is die vermoede dat misdadigers waarskynlik die mangatdeksel wou steel en dit daarom weggeskuif het.
Zara het in die mangat van ongeveer 1.4m diep geval. Vir 11 dae was sy sonder kos of water, en het sy vermoedelik van die rioolwater in die gat gedrink om te oorleef. Lourens het toe hy haar nie kry nie, vermoed dat sy dalk weggedwaal het. Hy het te voet en per motor die omgewing plat gery op soek na haar. Hy het oral navraag gedoen, pamflette oor haar verdwyning versprei, en selfs die Gazette en ander sosiale platforms vir hulp genader, maar daar was geen spoor van Zara nie.
Tot Sondag toe die ambulansman by een van die bure, Linde Swartz, wat net om die draai van die park woon, gaan aanklop het oor die hond wat hy in die mangat hoor blaf het. Linde het dadelik besef dat dit Zara moes wees.
Lourens het haar uit die mangat gehaal en self weer die mangat toegemaak. “Sy was verskriklik honger en maer,” vertel hy, en een van haar agterpote was stukkend, maar ten spyte daarvan was Zara haar ou self na die daelange mangat-ontbering toe sy Sondagmiddag saam met Lourens in die park was vir ‘n foto vir die Gazette.
Lourens het toe vertel dat dit hom bekommer dat daar soveel oop mangate in die park is. In sy soektog na Zara die afgelope bykans twee weke het hy minstens vier oop mangate in die park gekry – baie dieper as die een waarin Zara geval het. “Hier loop gereeld mense, ook kinders verby die oop mangate,” vertel hy.
Hy het in die oop mangate gekyk toe hy na Zara gesoek het, maar nie gedink aan dié mangat waar Zara gekry is omdat dit altyd toe was en toegegroei is agter die lang gras.

Raadslid Arnold Schoonwinkel het nadat Zara in die mangat gekry is onderneem om die beveiliging van alle mangate, onder die aandag van die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit te bring. Gazette het self ook die munisipale bestuurder, dr. Mothamaha, oor die kwessie genader, en sal die munisipaliteit se reaksie geplaas word sodra dit ontvang word.

Volgens ‘n plaaslike veearts kan honde lank sonder kos bly, maar nie so lank sonder water nie. Na twaalf dae sou mens dood verwag het sonder vog in die somerhitte – ou en baie jong honde selfs vroeër as gesonde, volwasse honde. ‘n Bang, histeriese hond sal ook moeiliker oorleef as ‘n hond wat kalm en rustig is. “Hulle ontwater, verloor gewig, en longontsteking is algemeen as hulle in diep water of rioolwater vasgekeer sou wees. Nierversaking is ook algemeen, en ‘n groot rede vir dood.” Dat Zara oorleef het is ‘n wonderwerk.



