Local newsNews

Polisie waarsku oor boodskap van beweerde reeksmoordenaar in Potch

Die polisie waarsku dat vals of misleidende inligting wat op sosiale media versprei word, onnodige vrees kan skep.

’n Ongeverifieerde boodskap word tans op sosiale media versprei waarin beweer word dat ’n verdagte wat as die “Kempton Park Serial Killer” beskryf word, glo na Potchefstroom verhuis het. Volgens die boodskap sou ’n uitgebreide polisie-operasie in Potchefstroom van stapel gestuur wees.

Die polisie in Noordwes waarsku egter dat die inligting nie as amptelike polisiewaarskuwing beskou moet word nie, en dat die publiek slegs moet ag slaan op waarskuwings wat deur die polisie se amptelike kommunikasiekanale bevestig word.

Die Potchefstroom-polisie het tot dusver geen amptelike verslag of klagte ontvang wat die spesifieke bewerings in die boodskap bevestig nie. Dit sluit die bewering in dat ’n verdagte na Potchefstroom verhuis het, asook bewerings oor ’n voorval naby die Bult en die beskrywing van die beweerde verdagte, het kolonel Adéle Myburgh gesê.

Myburgh sê daar is ook geen bevestiging van bewerings oor ’n mobiele bevelsentrum, hommeltuie of gespesialiseerde polisie-eenhede wat glo in Potchefstroom ontplooi is nie.

Myburgh sê die polisie in Noordwes is wel bewus van die ondersoeke wat tans in die Kempton Park-gebied voortduur. “Onlangse amptelike polisiekommunikasie bevestig dat ondersoeke na die sterftes van vroue in Kempton Park steeds aan die gang is. Dit beteken egter nie dat ’n verdagte wat met dié ondersoeke verbind word, na Potchefstroom verhuis het nie,” het sy benadruk.

Die polisie in Noordwes het vanoggend gewaarsku dat ongeverifieerde inligting nie op sosiale media versprei moet word nie. Foto verskaf deur SAPD Kommunikasiedienste.
Die polisie in Noordwes het vanoggend weer gewaarsku dat ongeverifieerde inligting nie op sosiale media versprei moet word nie. Foto verskaf deur SAPD Kommunikasiedienste.

Majoor-generaal Ryno Naidoo, waarnemende polisiekommissaris in Noordwes, het inwoners versoek om kalm, waaksaam en verantwoordelik te bly wanneer inligting op sosiale media gedeel word.

“Die polisie verstaan die kommer wat ’n boodskap van hierdie aard kan veroorsaak, veral onder inwoners en studente,” het Naidoo gesê.

Hy het ’n beroep op die gemeenskap gedoen om nie ongeverifieerde inligting te versprei of onnodige paniek te veroorsaak nie. Enige werklike operasionele ontwikkeling of openbare veiligheidswaarskuwing sal deur die SAPD se amptelike kommunikasiekanale bekend gemaak word, het Naidoo beklemtoon.

Die publiek is wel aangemoedig om veral ná donker redelike veiligheidsmaatreëls te tref. Dit sluit in om, waar moontlik, nie alleen te stap nie, goed beligte gebiede te gebruik en bewus te bly van hul omgewing.

Inwoners en sake-eienaars wat inligting oor ’n werklike misdaadvoorval het, moet dit by die polisie aanmeld en nie self probeer om ondersoek in te stel of enige persoon te konfronteer nie, het Myburgh gesê.

Misdaad kan by 10111 aangemeld word of by die plaaslike polisiestasie. Inligting oor kriminele aktiwiteite kan ook anoniem by Crime Stop op 08600 10111 deurgegee word.

Die polisie waarsku ook dat vals of misleidende inligting wat op sosiale media versprei word, onnodige vrees kan skep en polisiehulpbronne kan wegtrek van werklike misdaadbestryding. Die publiek word daarom versoek om polisieverwante inligting direk vanaf die SAPD se amptelike kommunikasieplatforms te verkry en kommerwekkende boodskappe te verifieer voordat dit aangestuur word.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button