Op WhatsApp gekaap deur skurke
Dit is onduidelik hoe hulle by haar nommer of die ander slagoffer se nommer uitgekom het.
Toe familie en kennisse met wie sy lank laas kontak gehad het, uit die bloute laat weet dit gaan goed met hulle, het Monya Freislich besef die swendelaars wat haar selfoon simkaart gekaap het, is deur haar hele kontaklys. Hulle was besig om geld by haar kontakte, en kontakte in haar WhatsApp groepe te bedel.
Monya was ook nie die enigste Parysenaar wat die afgelope twee weke deur gewetenlose kuberskurke met dieselfde skelmstreek geteiken is nie. Nog ‘n man van Parys se familie het tot hul verbasing ook WhatsApp-boodskappe van sy nommer gekry met sy profielfoto waarin hy kwansuis vra vir geld.
Gelukkig het die familie besef die trant van die boodskappe was nie dit waaraan hulle, of Monya se familie gewoond was nie.
Monya vertel sy was baie besig die betrokke dag, en het daarom die foon se klank afgeskakel. Gevolglik het sy nie gehoor toe die waarskuwings SMS van Vodacom – haar diensverskaffer – deurgekom het om te vra of sy die simkaartomruiling na ‘n ander foon gedoen het. Toe sy nie betyds reageer nie, het die swendelaars dit reggekry om haar simkaart te kaap rondom 12:00 daardie middag.
Daarna was daar weer ‘n boodskap van die diensverskaffer wat gevra het dat ‘n pin ingesleutel moet word sou dit nie sy wees wat die simkaartomruiling na ‘n ander selfoon gedoen het nie. Ook dié boodskap het sy té laat gesien toe sy eers om 15:00 die middag aandag aan haar boodskappe op haar selfoon kon gee.
Die kaper was toe reeds ‘n geruime tyd aan die gesels met haar kontakte.
Haar ma het die middag om 14:00 die eerste keer onraad vermoed toe sy Monya herhaaldelik op beide haar nommers geskakel het van haar selfoon en landlyn af, en die oproepe eers nie wou deurgaan nie, en toe nie beantwoord is nie. Nog minder die WhatsApp boodskappe wat sy vir Monya gestuur het. Ma en dogter het vroeër die oggend nog gepraat, maar dié skielike swye was ongewoon omdat Monya altyd haar ma geantwoord het as sy sou bel.
Monya se foon wou nie werk nie, en is sy later die middag na haar ma toe om haar te vertel wat gebeur het. Haar broer in Amerika het toe reeds ‘n boodskap van die swendelaar gekry en haar ma gebel om te vra wat fout is, en waarom Monya geld nodig het. Ook Monya se man is deur die skurk gedreig om die geld te betaal of anders deel hy al die inligting op haar foon.
Die taal en sinskonstruksie in die boodskappe wat beide slagoffers se kontakte gekry het, is swak, en begin meestal met die boodskap, “Hi, hoe gaan dit?” Daarna word gevra vir hulp met ‘n bedrag geld wat nodig is. In die een geval was dit R1 400, en in Monya se geval R2 500.

Monya het haar diensverskaffer se hulplynnommer geskakel, en is baie simpatiek deur die operateur gehelp.
“In daardie stadium was ek al naby histeries en het die dame my onmiddellik gekalmeer. Hoewel ek al my kontakte op WhatsApp verloor het, kon ek my nommer behou, en het die diensverskaffer ‘n rooi merker op die nommer geplaas wat beteken dat daar nie ‘n simkaartomruiling gedoen kan word mits dit by ‘n Vodacom-winkel self gedoen word nie.”
“Ek het al tien jaar die nommer, maar hierdie is die eerste keer dat so iets met my gebeur. Mens se grootste vrees is dat die skurke toegang tot jou bankrekening en persoonlike inligting sal kry,” vertel Monya verder.
Dit is onduidelik hoe hulle by haar nommer of die ander slagoffer se nommer uitgekom het. Volgens prof. Basie von Solms van die Sentrum vir Kuberveiligheid by die Universiteit van Johannesburg, kan ‘n onwettige simkaartomruiling tot gevolg hê dat die betrokke fone ‘dood’ is. Sy raad is dat jy beslis jou diensverskaffer moet kontak om seker te maak of daar so ‘n omruiling plaasgevind het. Hy sê dit word soms gedoen as die kuberkrakers by ‘n persoon se bankaanteken-info wil uitkom.
Daarom is dit raadsaam om jou aanlyn bankaanteken-kodes te verander as voorsorgmaatreël, en miskien ook jou WhatsApp-kodes.
Nog waardevolle wenke:
* Slaan ag op waarskuwingsboodskappe van jou diensverskaffer.
* Wees bedag op boodskappe van onbekende nommers, en boodskappe wat ooglopend verdag lyk soos die boodskappe op die skermgreep by die berig wat skielik na jou kontakte gestuur sou word.
* Enige verandering van jou profiel of kontakte wat bygevoeg word sonder jou medewete.
* As jy skielik uit van jou platforms uitgeteken word.
* Kyk uit vir ongeleesde boodskappe wat skielik wys dit is gelees, of ‘n rits verifikasie kodes wat jy ontvang.
* Kyk heel bo regs by die drie kolletjies bo-aan jou WhatsApp kontaklys. Gaan na ‘linked devices’ en kyk of daar toestelle is wat jy nie herken nie wat gekoppel is.
* As jou WhatsApp deur kuberskurke gekaap is, sal jy waarskynlik moet herregistreer met ‘n pin-kode wat vir jou gestuur sal word sodra jy herregistreer.
* Maak so gou moontlik kontak met jou diensverskaffer.
* Moet nooit enige geld oorbetaal wat gevra word op enige aanlyn platforms nie.



