Local newsNews

Borg vir sewe wat aangekla is van Emfuleni elektrisiteitsbedrog

Die saak is tot 18 September uitgestel.

Borgtog van R20 000 Is maandag in die Vanderbijlparkse landdroshof toegestaan vir die sewe beskuldigdes wat aangekla is vir die multimiljoen elektrisiteitsbedrogskema by die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit.

Die hof het egter streng borgvoorwaardes gestel. Die beskuldigdes moet onder meer alle hofverrigtinge bywoon totdat die saak afgehandel is, by die adresse bly wat aan die hof verskaf is en die ondersoekbeampte in kennis stel indien hul adresse verander. Hulle moet ook twee keer per week by die Vanderbijlpark-polisiekantoor aanmeld, en is verbied om met getuies in te meng.

Die beskuldigdes is David Senekal (31), Caroline Smangele Maduna (39), Kenneth Zongezile Mahobe (35), Hlawutelo Baloyi (29), Pule Meshack Masilo (36), Andries Bafana Maduna (48) en Sibusiso Patrick Tshabalala (46).

Die sewe staan tereg op aanklagte van bedrog, diefstal van elektrisiteit ter waarde van ongeveer R9,9 miljoen, verdere bedrog en diefstal van sowat R150 000, geldwassery en die peuter met noodsaaklike infrastruktuur.

Lumka Mahanjana, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag sê die Emfuleni munisipaliteit het tussen Februarie 2024 en Junie 2026 die elektrisiteit van ondernemings en inwoners afgesny wie se munisipale rekeninge agterstallig was.

Die beskuldigdes het na bewering daarna die betrokke inwoners en sake-eienaars genader en aangebied om hul elektrisiteit weer aan te sluit in ruil vir betaling. Nadat betalings gemaak is, het hulle die elektrisiteit na bewering onwettig aangesluit en munisipale rekords gemanipuleer om te wys dat die uitstaande bedrae op die betrokke rekeninge verminder is.

Die oorspronklike uitstaande bedrae het egter volgens bewerings in die daaropvolgende maande weer op die verbruikers se munisipale rekeninge verskyn. Die elektrisiteit het nietemin aangesluit gebly weens die beweerde onwettige heraansluitings.

Die klaers het die saak by die munisipaliteit aangemeld. Ná ’n interne ondersoek is die saak na die polisie verwys vir strafregtelike ondersoek.

Die sewe beskuldigdes is op 21 Augustus in hegtenis geneem.

Die Staat het die aansoek om borgtog teengestaan. Die hof het egter bevind dat dit in die belang van geregtigheid is dat die beskuldigdes vrygelaat word, onderhewig aan streng borgtogvoorwaardes.

Die saak is uitgestel tot 18 September vir die borgtoguitspraak van die agtste beskuldigde, Janitha Van Reenen Coetzee.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button