Local newsNews

Dié vyf liedjieskrywers ding mee om FAK-Skryf’it-titel

Die publiek kan vanaf 18 September vir hul gunstelingliedjie stem.


.Ná maande se beoordelingsrondes en openbare stemming staan vyf liedjieskrywers en hul ghoeroes uit meer as 1 000 inskrywings gereed om op Erfenisdag om die gesogte titel mee te ding.

Die publiek kry van 18 tot 22 September die geleentheid om vir hul gunstelingliedjie te stem. Die uiteindelike wenner word op 24 September tydens die FAK-Skryf’it-finaal, as deel van die Toeka tot Toekoms Erfenisfees by die Voortrekkermonument, aangekondig.

Volgens Barry Müller, die FAK se nasionale hoof van gemeenskap, geskiedenis en ad hoc-projekte, weerspieël vanjaar se top-5 die uitsonderlike gehalte van Afrikaanse liedjieskryf.

“Die finale vyf verteenwoordig nie net uitstekende liedjies nie, maar ook unieke stories, perspektiewe en kreatiewe stemme. Dit wys dat oorspronklike Afrikaanse liedjieskryf lewendig en gesond is,” sê Müller.

Die finaliste is Lienke Viljoen, Ruan Jordaan, Milah en Aniel Redelinghuys, Christiaan Louw en Coenie Naudé.


Lienke Viljoen: Stories wat mense verbind


Lienke Viljoen van Stellenbosch het die finale ronde gehaal met haar liedjie “Straatligte”, wat deur haar ghoeroe, William Wolf, verfyn en vertolk word. Die lied vertel die verhaal van twee mense wat saam grootword, uitmekaar dryf en uiteindelik weer by mekaar uitkom. Die inspirasie daarvoor het ontstaan nadat haar broer twee goeie vriende in ’n motorongeluk verloor het. Die liedjie ondersoek temas
van verlies, herinnering, vergifnis en hoop.

Lienke Viljoen. Foto: Verskaf


Viljoen glo musiek kan emosies verwoord waar gewone woorde dikwels tekort skiet. Sy put inspirasie uit mense se stories en ervarings en sien die kompetisie as ’n geleentheid om haar hart met die wêreld te deel.

Ruan Jordaan: Musiek as emosionele uitlaatklep


Ruan Jordaan wat in Wonderboom, Pretoria, woon en oorspronklik van
Vanderbijlpark afkomstig is, beskryf homself as iemand met ’n passie vir kuns in
verskeie vorme.


Sy liedjie, Eens op ’n tyd, word in die kompetisie deur Danie “Reënwolf” du Toit van
Spoegwolf vertolk. Die liedjie spruit voort uit Jordaan se soeke na ware liefde en
emosionele genesing ná moeilike verhoudings, en verwoord die menslike behoefte
aan aanvaarding en opregte liefde.

Ruan Jordaan. Foto: Verskaf
Ruan Jordaan. Foto: Verskaf


Jordaan skryf reeds sedert tienjarige ouderdom liedjies. Die verlies van sy oupa aan
kanker het aanleiding gegee tot die eerste liedjie wat hy geskryf het. Vandag bly
liedjieskryf vir hom ’n manier om betekenis te vind in die lewe se uitdagings en
oorwinnings.


Aniel en Milah Redelinghuys: ’n Unieke ma-en-dogter-verhaal


Van Wellington in die Wes-Kaap kom die enigste duetinskrywing in vanjaar se
kompetisie:m Aniel en Milah Redelinghuys. Hul liedjie, Bittermooi Boland, wat deur hul ghoeroe Andriëtte Norman vertolk word, is ’n liefdesbrief aan die Boland, sy mense en sy landskappe. Die projek kombineer
Aniel se jarelange ervaring as skrywer met Milah se passie vir sang en musiek.

Milah en Aniel. Foto: Verskaf

Aniel het die lirieke geskryf, terwyl Milah die toonsetting behartig het.

Aniel beskryf skryf as skilder met woorde, terwyl Milah FAK-Skryf’it sien as ’n waardevolle geleentheid om blootstelling in die musiekbedryf te verkry. Vir albei gaan die ervaring oor meer as bloot kompetisie; dit gaan oor leer, groei en die moed om hul kreatiewe werk met die publiek te deel.

Dié ma-en-dogter-span glo dat goeie liedjieskryf tegniese vaardigheid én emosionele eerlikheid vereis, en hoop om ander aspirant-liedjieskrywers aan te moedig om hul eie stories te vertel.

Christiaan Louw: Op soek na wat werklik saak maak


Christiaan Louw van The Reeds in Centurion het die top-5 gehaal met sy liedjie
Huistoe, wat deur sy ghoeroe, John-Henry Opperman van Klopjag-faam,
ondersteun word.

Huistoe vertel die verhaal van iemand wat die plaas verlaat op soek na groter geleenthede, maar uiteindelik ontdek dat sukses min beteken wanneer jy van jouself vervreem raak. Die liedjie ondersoek temas van identiteit, behoort en die soeke na betekenis.

Christiaan Louw
Christiaan Louw


Louw se liefde vir musiek het reeds in sy kinderjare ontstaan. Hy het later in kore engroepe gesing voordat hy ernstig op liedjieskryf begin fokus het. Vir hom gaan musiek oor die emosies en stories wat mense met mekaar verbind.

Sy plek in die top-5 dien as verdere bevestiging dat eerlike storievertelling steeds sterk aanklank vind by luisteraars.


Coenie Naudé: Afrikaans se emosionele krag


Die 32-jarige Coenie Naudé van Nelspruit is die skrywer van Geraas, wat deur sy ghoeroe, Ampie du Preez, vertolk word.

Volgens Naudé is die liedjie ’n kreatiewe uitbeelding van die innerlike uitdagings waarmee baie mense worstel. Deur humor en ligtheid te gebruik, spreek die liedjie ernstige emosionele temas op ’n toeganklike manier aan.

Met ’n BSc-graad in Klankingenieurswese aan die Academy of Sound Engineering beskik Naudé oor beide tegniese en kreatiewe kundigheid. Hy glo Afrikaans is een van die mees emosioneel eerlike tale waarin hy homself kan uitdruk.

Coenie Naude. Foto: Verskaf
Coenie Naude. Foto: Verskaf

Vir Naudé is liedjieskryf ’n manier om die mooi én die moeilike dele van die lewe vas te vang en betekenis te gee aan universele menslike ervarings.

Egte stories bly die hart van die kompetisie


Müller beklemtoon dat vanjaar se kompetisie ook verantwoordelike gebruik van kunsmatige intelligensie (KI) ingesluit het.

“Ons leef in ’n wêreld wat vinnig verander. KI kan ’n nuttige hulpmiddel wees, maar die stories, emosies en kreatiwiteit moet steeds van die liedjieskrywer self kom. Opregte Afrikaanse musiek word uit menslike ervaring gebore. Daarom het ons streng prosesse gevolg om die egtheid van elke inskrywing te verseker.”

Hy voeg by dat die kompetisie oor veel meer as die R25 000 kontantprys gaan.

“FAK-Skryf’it bied opkomende liedjieskrywers die geleentheid om hul werk aan ’n breër gehoor bekend te stel en waardevolle blootstelling in die musiekbedryf te kry. Dit kan die eerste tree wees na ’n suksesvolle loopbaan.”


Met Erfenisdag om die draai kry die top-5 nou die geleentheid om hul liedjies, deur die vertolkings van hul ghoeroes, aan ’n nasionale gehoor bekend te stel. Vir elke finalis verteenwoordig die kompetisie nie net ’n kans om te wen nie, maar ook ’n geleentheid om hul liefde vir Afrikaans en musiek met die gemeenskap te deel.

Die publiek kan vanaf 18 September vir hul gunstelingliedjie stem. Besoek Skryfít.co.za om aanlyn te stem of SMS die liedjiekode na 45730. Elke persoon kan een keer aanlyn en een keer per SMS stem.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button