SAPD soek-en reddingspan geloof vir uitstaande werk na Heilbron-tragedie
Name van oorledenes bekendgemaak
Die Vrystaatse LUR vir gemeenskapsveiligheid, Paaie en Vervoer, Mr JNI Mbalula, het lede van die polisie se soek- en reddingspan geloof vir hul uitstaande werk op die toneel waar die liggame van agt mense gister uit ‘n stroom langs die Welgeluk-grondpad buite Heilbron gehaal is, na ‘n tragiese voorval toe die bakkie waarmee die oorledenes gery het, op die Kliprivier-laagwaterbrug meegesleur is.
‘n Een en sewentigjarige man, sy 62-jarige vrou, hul drie kleinkinders, asook ‘n 34-jarige man, sy 33-jarige vrou en die egpaar se 2-jarige dogtertjie was onder die oorledenes.


LUR Mbalula het sy opregte medelye met die naasbestaandes betuig en polisielede geloof wat daarin kon slaag om die liggame van die oorledenes binne 48 uur na die hartseer insident, te kon opspoor.
Polisiewoordvoerder kapt. Earle het gister gesê volgens die voorlopige ondersoek, het die oorledenes Saterdagmiddag vanaf Heilbron gery, maar nooit hul bestemming op ‘n plaas in die Heilbron-distrik bereik nie.
Hulle is Sondagaand as vermis aangemeld.
Die oupa en ouma en hul kleinkinders – ‘n 10-jarige en ‘n 12-jarige seun, asook ‘n 14-jarige dogter, en die ander egpaar en hul 2-jarige dogtertjie se liggame is in die stroom gekry, nadat die polisie met ‘n grootskaalse soektog begin het.
‘n Boer het Maandagoggend die voertuig in die stroom opgemerk waarop soek-en-reddingshonde en hul hanteerders sowel as polisieduikers hul na die toneel gehaas het en met die uitgebreide soektog in die stroom begin is.
Die name van die oorledenes is intussen deur die polisie bekendgemaak. Hulle was mnr. Ditaba Isaac Mazibuko (71), sy vrou, Modiehi Elizabeth Mazibuko (62), hul kleinkinders Refilwe Jwalane Monyatsi (14), Luyanda Zengele (10), Sibusiso Brian Zengele (12), mnr. Mazibuko se kollega Patrick Mquega (34), sy vrou Nthabiseng Agnes Toba (33) en hul 2-jarige Omphile Angela Toba.
‘n Beroep is Dinsdag weer op die publiek gedoen om uiters versigtig te wees op paaie veral in reënweer wanneer daar die gevaar van vloede is, en om oorstroomde laagwaterbrue, strome en riviere te vermy. Moenie deur snelvloeiende water probeer loop of ry nie omdat jy jou met die diepte en krag van die water kan misreken. Gebruik eerder alternatiewe roetes of wag tot die watervlak gesak het. Hou ook weervoorspellings dop wanneer jy ‘n rit beplan. Verminder spoed en hou by groter volgafstande in reënweer.



