Local newsNews

Erkenning vir ‘n organisasie wat sy gemeenskap dien

VVA lewer volhoubare maatskaplike dienste en bied kinderbeskerming en gemeenskapsontwikkelingsdienste regoor die Vrystaat.

Vrystaat Versorging in Aksie (VVA) Parys is tydens die organisasie se driejaarlikse kongres in Bloemfontein vereer met die Prestasietoekenning as Gesubsidieerde Tak van die Jaar. Die gesogte Noitjie-bronstrofee is vir dié prestasie aan die tak oorhandig.

Hierbenewens is ‘n prestasietoekenning en trofee as Administratiewe Beampte van die Jaar aan die tak se Sanette Boonzaier oorhandig. Die organisasie is ook Vrydag as die Beste Welsyn/Nie-winsgewende Organisasie bekroon in vanjaar se MooiVaal Media Best of Parys-toekennings. Laasgenoemde toekenning word uitsluitlik deur lesersstemme bepaal op grond van diens by uitnemendheid.


Die organisasie is op 25 Maart 1908 as die Oranje Vrouevereniging (OVV) op die historiese plaas Onze Rust van president MT Steyn in die Bloemfontein-distrik gestig, met die doel om kwesbare individue, gesinne en gemeenskappe in nood te ondersteun. President Steyn se vrou, Tibbie, was die eerste voorsitter van die organisasie.


Die bekende Emily Hobhouse het gedurende haar leeftyd ‘n groot bydrae tot die werksaamhede van die organisasie gelewer.

In 2006 het die organisasie sy naam verander om v as Vrystaat Versorging in Aksie (VVA) bekend te staan. Die naamsverandering het aangesluit by ‘n moderne benadering tot maatskaplike dienste.

Vandag lewer dié nie-winsgewende welsynsorganisasie steeds volhoubare maatskaplike dienste en bied kinderbeskerming en gemeenskapsontwikkelingsdienste regoor die Vrystaat. Daar is tans 50 VVA-takke in die Vrystaat, met die organisasie se hoofkantoor in Bloemfontein.

Sanette Boonzaier en VVA Parys se voorsitter, André Wesseloo, met die toekennings wat aan VVA Parys en aan Sanette oorhandig is. Foto: Verskaf
Sanette Boonzaier en VVA Parys se voorsitter, André Wesseloo, met die toekennings wat aan VVA Parys en aan Sanette oorhandig is. Foto: Verskaf
Die trofee wat aan VVA Parys oorhandig is. Foto: Verskaf
Die trofee wat aan VVA Parys oorhandig is. Foto: Verskaf


VVA Parys voorsien daagliks ‘n bord kos aan gemiddeld 80 mense, van wie die meeste bejaardes is, sowel as haweloses wat deel is van die organisasie se koeponstelsel.


Altesaam 22 kosblikke word daagliks vir hulpbehoewende kinders gepak, terwyl gemiddeld 30 kospakkies twee keer per week aan gesinne met kinders voorsien word.


Die organisasie het 24 eenhede vir bejaardes wat slegs ‘n SASSA-pensioen verdien, en VVA se Blikoortjies-kleuterskool word tans uitverhuur.


VVA se Huise van Veiligheid, Lerato- en Chrissanloo-huis, het op die oomblik gesamentlik 24 kinders in hul sorg. ‘n Nasorgfasiliteit is ook begin vir ouers wat andersins nie ‘n heenkome vir hul kinders ná skool het nie.


Daar word ook nie net in fisiese nood voorsien nie. Maatskaplike, statutêre en ondersteuningsdienste word deurlopend gelewer, terwyl die Sakpaswinkel en klerebank voorsien in die klerebehoeftes van mense wat dit nie kan bekostig nie. Die publiek kan ook hier klere teen bekostigbare pryse koop.
“VVA sê dankie vir die gemeenskap vir die lojale ondersteuning oor jare, en sonder wie die toekennings nie moontlik sou wees nie,” sê André Wesseloo, voorsitter van VVA Parys.


Die organisasie nooi dan ook die gemeenskap om ‘n kind by Chrissanloo of Lerato “aan te neem”. Dit beteken bloot dat jy uitreik na die kind wat jy ‘aangeneem’ het, hetsy deur ‘n klein bederfie af en toe, of deur tyd saam met die kind te spandeer. Die kinders bly steeds in die sorg van die veiligheidshuis, maar op hierdie manier kan jy op ‘n besondere manier jou omgee vir hierdie kinders wys. Skakel VVA by tel. (056) 811 2971 vir meer inligting.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button