Uitvloei by Bloemhof nog verder verhoog
Water by die Schoemansdrift-brug het deur die nag gestyg.
Uitvloei by Bloemhofdam vanoggend om 10:00 nog verder verhoog word na 3 400 kubieke meter per sekonde.
Status quo sal egter steeds by Vaaldam gehandhaaf word met tien heksluise wat tans by dié dam oop is.
Vaaldam is 121,53% vol met invloei wat gemeet word teen 1 832 kubieke meter per sekonde en uitvloei (nie geverifieer) teen 1881 kubieke meter per sekonde.
Water van die Vaalrivier het wel deur die nag effens gestyg, vertel Sue Jansen van Rensburg as gekyk word na die Schoemansdrift-brug in die Vredefort Koepel. Die brug is steeds onder water en gesluit vir verkeer. Teen Saterdagmiddag 16:45 is vloei by dié brug nog gemeet teen 3 020 kubieke meter per sekonde en het die Vaalrivier se watervlak by die brug toe 4,6m gemeet.
Vanoggend om 08:00 kon hulle nie meer by die meetplaat uitkom nie.


Op die foto’s is die Schoemansdrift-brug in die Vredefort Koepel heeltemal onder water. Foto’s: Sue Jansen van Rensburg.



