Kom ons beskerm ons mammas en kinders hierdie Moedersdag
Deur hierdie wenke nie net te gebruik nie, maar ook met familie en vriende te deel, kan ons help om 'n positiewe verskil in die stryd teen misdaad te maak en ons vroue veilig te hou.

Op 11 Mei vier ons Moedersdag – ‘n spesiale geleentheid om die vroue te eer wat ‘n moederlike rol in ons lewens speel. Een van die waardevolste geskenke wat ons aan hulle kan gee, is om hul veiligheid en sekuriteit te verseker. Charnel Hattingh, Groephoof van Bemarking en Kommunikasie by Fidelity ADT, moedig gesinne aan om persoonlike veiligheid voorop te stel, hetsy tuis of in die openbaar.
Moeders dra ‘n belangrike verantwoordelikheid om hul kinders teen gevaar te beskerm. In vandag se wêreld is dit belangriker as ooit tevore. Selfs by die huis, moet algemene gevare soos swembaddens of toegang tot huishoudelike chemikalieë in ag geneem word, veral vir jonger kinders.
Veiligheidswenke vir mammas:
-
Wanneer jy in openbare plekke parkeer met kinders in die voertuig, skakel die motor af en haal die sleutels uit. Moet nooit jou kind alleen in die motor los nie, selfs al is dit net vir ‘n vinnige inkopie.
-
Dit het al gebeur dat ‘n slapende kind in ‘n motor vergeet is. Nuwe motorsitplekke het ‘n alarm wat afgaan as jou kind in die sitplek is wanneer die voertuig afgeskakel word.
-
As jy jou kinders by die huis agterlaat in iemand anders se sorg, weet waar hulle is voordat jy die motor aanskakel. Die skynbaar onmoontlike is altyd tot ‘n mate moontlik. Dit is nie die risiko werd nie.
-
Enige kriminele voorval is traumaties, veral vir kinders. Om te voorkom dat jy ‘n slagoffer van grypdiewe is, moenie waardevolle items – jou foon, handsak, skootrekenaar – sigbaar laat terwyl jy bestuur nie. Maak seker die deure is gesluit en die vensters is toe.
-
As jy jou kinders by die huis agterlaat in die sorg van ‘n oppasser of au pair, moet hulle net so sekuriteitsbewus wees soos jy en weet wat om in ‘n noodgeval te doen. Maak seker alle afstandbeheer paniekknoppies werk en dat areas van die huis wat nie gebruik word nie, beskerm word deur die alarmstelsel en ander sekuriteitsoplossings wat jy in plek het.
-
Afstandmonitering van jou huis en eiendom terwyl jy weg is, hou jou op hoogte van alles wat in reële tyd gebeur. Oorweeg die installasie van toesigkameras met 24/7 sekuriteitsmonitering.
-
Maak gebruik van gemeenskapsekuriteitsdienste, soos WhatsApp-groepe en jou plaaslike sekuriteitsverskaffer se waarde toegevoegde dienste,
Veiligheidswenke vir alle vroue:
-
Vertrou jou instink. Vroue het ‘n goeie intuïsie en moet daarna luister. As iemand of iets jou ongemaklik laat voel, vermy die individu en verlaat die area.
-
Maak kontak met jou privaat sekuriteitsdiensverskaffer en vra of hulle ‘n mobiele paniekalarmdiens aanbied wat op jou selfoon afgelaai kan word.
-
Vertel iemand waarheen jy gaan en teen watter tyd jy verwag om terug te wees. Stoor die besonderhede van die persoon wat in geval van nood gekontak moet word op jou selfoon of memoriseer dit.
-
Wees bewus van mense rondom jou wanneer jy na jou voertuig beweeg, veral by plekke soos winkelsentrums, vulstasies, ensovoorts. Maak seker jy neem ‘n oomblik om te kyk wat in die straat aangaan voordat jy in ‘n oprit inry, of dit nou jou eie of ‘n vriend s’n is.
-
As jy bestuur, is die eerste ding om te doen sodra jy in jou voertuig is, om seker te maak dat al die deure gesluit is. Moet nooit met ‘n handsak of enige ander waardevolle items op ‘n sitplek of in die sig van iemand buite jou voertuig ry nie. Probeer om jou motor ‘n selfoonvrye sone te maak sodat jy op jou omgewing kan konsentreer en jou en jou gesin veilig kan hou.
“Enige geleentheid om op persoonlike veiligheid te fokus, moet gebruik word. Ons kan ons moeders ‘n wonderlike geskenk gee deur seker te maak ons bemagtig hulle met die vaardighede en kennis wat hulle nodig het om veilig teen misdaad te wees,” sê Hattingh.
Misdadigers sien vroue dikwels as kwesbaar en maklike teikens. Hattingh beveel aan om waaksaam te bly en nooit jou waaksaamheid te verslap nie om te voorkom dat jy deel van misdaadstatistiek word. Die sleutel tot veiligheid is altyd om versigtig te wees.



