Local newsNews

Inwoners laat hul stem hoor oor dienslewering

'n IDP vergadering vir dié wyke sal nou op 19 Mei om 16:30 by die NG Suid-gemeente gehou word.

‘n Geïntegreerde Ontwikkelingsplan (IDP) vergadering waar openbare insette van inwoners van die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit se wyke 7, 10, 12 en 14 Maandag gekry moes word, het herinner aan die nasionale begrotingsdebakel toe inwoners die voorgestelde projekte en begroting afgekeur het. ‘n IDP vergadering vir dié wyke sal nou op 19 Mei om 16:30 by die NG Suid-gemeente gehou word.

Die week se vergadering het van meet af nie goed begin nie, toe inwoners voor geslote hekke by die AfriDome gekom het omdat die munisipaliteit nie die nodige reëlings vir ‘n lokaal en klanktoerusting getref het nie. Sowat 50 mense het die vergadering bygewoon na ‘n mislukte eerste poging vir ‘n vergadering vir wyk12 wat swak bygewoon was.

Uit die staanspoor was dit duidelik dat mense gefrustreerd is met gebrekkige basiese dienslewering. Baie vrae is gevra oor knaende kragonderbrekings, droë krane en gereelde pypbarste, en die haglike toestand van paaie. Met senior munisipale bestuur wat nie soos vooraf versoek is, by die vergadering teenwoordig was nie, kon antwoorde nie gegee word nie.

Kommer oor vordering met herstel van die dorp se watersuiweringsaanleg, die aanstel van kontrakteurs, wat gedoen word om wanbetalers vas te vat, en wat van munisipale kant gedoen word om geldtekorte aan te vul, het by herhaling in vrae opgeduik. Daar is ook klem gelê op kwessies soos die gebrek aan ‘n elektroniese klagtebank en dooie straatligte wat al in die verlede by IDP vergaderings as behoeftes van die gemeenskap uitgewys is, maar steeds nie aangespreek is nie.

Die gebrek aan antwoorde op dié en ander kwessies het veroorsaak dat voorgestelde IDP-projekte nie bespreek kon word nie. Drukstukke van die voorgestelde IDP-projekte en begroting was boonop onleesbaar, en het inwoners gesê dat dit nie vir die publiek verstaanbaar is nie, en senior amptenary juis daarom vrae en onduidelikhede moes kon beantwoord. Die publiek was ook ontevrede omdat hulle nie vooraf insae in die dokumente gehad het nie. Die gevolg was dat eenparig besluit is om nie by dié vergadering die IDP-voorstelle en begroting te aanvaar nie.
Hoewel die openbare IDP vergadering nie ten doel het om probleme met basiese dienslewering en munisipale kwessies aan te spreek nie, maar eerder die gemeenskap se behoeftes in elke wyk moet bepaal vir in ag neming deur die Raad wanneer IDP-projekte goedgekeur word, was dit duidelik dat mense moedeloos gesukkel is om dienste te kry waarvoor betaal word.

Ontwikkelingsprojekte wat in die verlede voorgestel of aangepak is, kom ook nie van die grond af nie, of sloer met voltooiing daarvan. “Dit is soos om ‘n emmer met gate vol water te maak en dan aan te hou water ingooi sonder om die gate toe te stop,” het Johan Smit opgemerk.
Wanneeer die publiek hul voorstelle en insette by die IDP vergaderings gegee het, moet dit na die openbare deelname proses in al die wyke na die raad verwys word vir goedkeuring, wat dan besluit watter projekte goedgekeur word. Daar moet dan weer terugvoer aan die gemeenskap gegee word. IDP-projekte word vir ‘n periode van vyf jaar goedgekeur. Mense kan voor Maandag se vergadering na die relevante dokumente op die webtuiste ngwathe.fs.gov.za kyk

Uit die wanpersepsie wat daar dié week was oor die doel van die vergadering, was dit veral duidelik – baie meer moet gedoen word om inwoners volledig in te lig oor die IDP en proses wat gevolg word.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button