Kaggel, klavier en poësie
Kom vier saam met die ATKV-tak Vredefort Koepel die 100-jarige bestaan van Afrikaans as amptelike taal met die gesellige saamkuier met pragtige Afrikaanse poësie en liedere.
Die ATKV tak-Vredefort Koepel is by die pas afgelope Kultuurkuier in Rawsonville, beloon met ‘n toekenning vir die aanbied van ‘n uiters suksesvolle Skryfskool met prof. Hans du Plessis, wat die week net na die Skryfskool oorlede is.
“Ons is tegelykertyd dankbaar en hartseer dat dié legendariese prof Hans sy laaste Skryfskool in Parys vir ons tak aangebied het”, sê Corlia Wentink, takvoorsitter, inspirasie en dryfkrag agter die, nou reeds bekende, Skryfskole.
Erna Rademan, die tak se Tesourier, is afgevaardig om namens die tak die Kultuurkuier by te woon en sy het vol inspirasie teruggekom Vrystaat toe.

Sy vertel dat sy saam met ‘n groep vriendinne van die Bosveld af gereis het, toe daar spontaan gedigte aangehaal en vir mekaar voorgelees is. “Ek het onmiddellik besluit dat ons ‘n lekker kuieraand rondom Afrikaanse poësie en musiek moet aanbied.
“Ons het die wonderlikste gedigte in Afrikaans wat selde gehoor word,” sê sy.
Hiermee nooi die tak die publiek om hul gunsteling gedig(te) te nomineer. Jy mag self jou gunsteling gedig voorlees of vra dat dit namens jou voorgelees word.
Die heerlike kaggel, klavier en poësie kuier sal Donderdag 5 Junie by O’s restaurant in Parys gehou word. Die voorlees van gedigte sal afgewissel word met Afrikaanse musiek deur plaaslike kunstenaars en leerlinge van die Erna Rademan Musiekskool.Kom vier saam met die ATKV-tak Vredefort Koepel die 100-jarige bestaan van Afrikaans as amptelike taal met die gesellige saamkuier met pragtige Afrikaanse poësie en liedere.
Indien jy belangstel om deel te neem kontak Wynand Serfontein by 083 452 5526 via WhatsApp of Telegram.



