Johan Stoltz, oudleerder van Hoërskool Parys het met sy eerste Comrades vandag kon spog met ‘n silwermedalje in ‘n skitterende tyd van 7:22:03.
Manlike deelnemers aan vanjaar se Comrades wat die marathon tussen 6 ure en 7 uur 30 minute voltooi het, het silwermedaljes ontvang, terwyl die afsnytyd vir silwer vir vroulike deelnemers tussen 7 uur en 7 uur 30 minute was.
Johan het in Januarie begin oefen vir vanjaar se afwaartse marathon oor sowat 89km van Pietermaritzburg na Durban. “Ek wou nog altyd die Comrades gedoen het,” vertel ‘n trotse Johan wat deesdae in Umhlanga woon.


Hy beskryf die roete as baie mooi, maar vertel dat sy bene op 50km begin kramp het. “My hele liggaan het van 60km af begin kramp. Dit was die moeilikste, want ek moes vir 39,9km deur die krampe druk. Die gees van die Comrades het soveel van die pyn weggevat, en dit vir my moontlik gemaak om ‘n silwer te kon behaal.”



