Local newsNews

Landbou-minister lê klem op samewerking, gee erkenning aan boere se uitdagings

"Die tyd het gekom dat boere nie meer van mekaar nie, maar met mekaar moet praat. Kom ons staan saam, vat hande en trek die landbouwa deur die drif," het minister Aucamp gesê.

Landbou-minister Willie Aucamp het tydens sy besoek verlede week aan Parys ‘n bemoedigende boodskap vir boere in dié distrik, naby sy geboortedorp Potchefstroom gehad toe hy hom opnuut verbind het tot samewerking met die boeregemeenskap.


“In my hart glo ek dat boerdery nie net ‘n werk is nie – dit is ‘n roeping. Ons boer want ons is lief daarvoor. Ek is self ‘n boer, en daarom gee ek die onderneming dat my werk as minister van landbou vir my ‘n roeping is waartoe ek myself verbind, om dit te doen met die hulp van Bo en met julle samewerking. Om te boer in Suid-Afrika is nie maklik nie, en samewerking is daarom belangrik,” het minister Aucamp gesê.


Hy het verwys na die enorme uitdagings rondom bek-en-klouseer-uitbrake in al nege die land se provinsies en die lesse wat die afgelope maande geleer is.

'n Volgepakte saal het na minister Aucamp kom luister tydens sy besoek aan Parys. Foto: Liezl Scheepers
‘n Volgepakte saal het na minister Aucamp kom luister tydens sy besoek aan Parys. Foto: Liezl Scheepers


Hy het ook terugvoer gegee oor vordering in die hantering van die bek-en-klouseerkrisis, met verwysing na die uitbreiding van entstofkapasiteit deur invoerkanale wat oopgemaak is, en makliker en beter verspreiding van die entstof wat nou moontlik is.


Teen verlede week was reeds byna 23 miljoen entstofdosisse versprei en word nog ‘n besending van 5,5 miljoen entstofdosisse binne die volgende paar weke in die land verwag.


As gevolg van beter verspreiding kan entstofdosisse nou direk versprei word en binne 24 uur by ‘n veeartspraktyk wees, het die minister gesê.


Met 15,2 miljoen beeste in Suid-Afrika wat twee keer ‘n jaar geënt moet word teen die siekte, is die probleem met beperkte hulpbronne om die entstof toe te dien, ook reeds aangespreek, met boere wat kan registreer om hul beeste self te kan ent.


“Ons as boere weet hoe om te ent, en kan ons ons boere vertrou nie net om hul beeste te ent nie, maar ook om die voorgeskrewe kontroleprosesse te volg,” het minister Aucamp gesê.

Die minister van landbou, Willie Aucamp, saam met die DA se burgemeesterskandidaat, Carina Serfontein, tydens sy besoek aan Parys. Foto: Liezl Svheepers.
Die minister van landbou, Willie Aucamp, saam met die DA se burgemeesterskandidaat vir Ngwathe, Carina Serfontein,, tydens sy besoek aan Parys. Foto: Liezl Svheepers.

“Met die entstofkwessie wat aangespreek is, sien ons dat mense meer geneë is om bek-en-klouseer-uitbrake aan te meld. Ons sou egter nie die enorme uitdaging kon oorkom as boere en landbou-organisasies nie bereid was om saam met die departement te werk nie,” het minister Aucamp bygevoeg.
Hy was op die man af toe hy gesê het dat hy nie in die departement is om ‘n gewildheidskompetisie te wen nie, maar om die regte dinge te doen.


“Waar die staat tekort geskiet het met die vervaardiging van entstof, was die oordrag van intellektuele eiendomsreg van die staat na die private sektor ‘n groot deurbraak om ons entstofkapasiteit te kon verhoog”. het hy gesê.


Op ‘n vraag oor die onlangse uitbraak van bek-en-klouseer in Namibië, was die minister ook duidelik dat ondersteuning aan buurlande gegee moet word, maar dat daar duidelike protokol is om te volg om ook Suid-Afrika se vee te beskerm.


Die minister het terugvoer gegee oor die uitbreiding van markte en belowe dat daar gekyk word na protokol rondom die in- en uitvoer van semen en embrio’s om nog ‘n lyn van inkomste met genetika oop te maak.


Minister Aucamp het erkenning gegee aan die belangrikheid van plaasveiligheid, wat hy as ‘n absolute vereiste beskryf het. Hy het gesê beter skakeling tussen regeringsdepartemente, die polisie en die landbougemeenskap is nodig, en aangedui dat ‘n landelike veiligheidsplan hopelik vroeg in 2027 ter tafel gelê sal word.


Hy het ook begrip getoon vir die uitdagings in die hoenderboerderybedryf, spesifiek rondom enting, en verduidelik wat sy departement doen om hierdie uitdagings aan te spreek.


Ander kwessies wat die oggend aangeraak is, was elektrisiteitsvoorsiening, biobrandstof, graanprysmanipulasie, hoe voorbereid die landboubedryf vir El Niño is, en die koste en uitdagings wat die agteruitgang van infrastruktuur, veral paaie, vir boere meebring.


“My verantwoordelikheid is teenoor die boere van Suid-Afrika. Juis daarom kan ons ook nie invoere toelaat wat tot nadeel van ons boere is nie,” het minister Aucamp gesê.


Met verwysing na die komende plaaslike munisipale verkiesing was hy duidelik daaroor dat die verkiesing die tafel dek vir die land se nasionale verkiesing in 2029.


Hy sê die DA maak reeds ‘n verskil in die RNE met die party se ses ministers, ses adjunkministers en voorsitters van portefeuljekomitees.


“Ons is besig om die land stuk vir stuk om te draai, en die verkiesing gaan ‘n enorme verskil in mense se lewens maak,” het hy voorspel. “In boerdery weet jy verandering gebeur nie oornag nie. As ek kyk na hoe ons saamwerk binne die RNE ten spyte van uitdagings, is ons op ‘n beter plek as wat ons vyf jaar gelede was.”


At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button