Konsentrasiekampdag vanjaar weer op besondere wyse herdenk
Vir meer inligting skakel Gys by 082 934 8017, Mark by 084 860 2858, of Jan-Danie by 082 965 7002
Konsentrasiekampdag word Maandag 16 Junie in die Vereeniging Konsentrasiekamp begraafplaas vanaf 09:00 herdenk met n kort diens en program. Die besondere program word aangebied deur die Vaadriehoek Kultuurnetwerk, in samewerking met die FAK Kultuurnetwerke Sentral en Vrystaat, GGSA Vaal, die Vryheidsmonument Voortrekkers, Chalkboard Champs en vriende van die kultuur en geskiedenis.
Bring jou kampstoel, ‘n hoed sou die son skyn, of ‘n lekker kombers as dit koud is, en wees deel van die dag wat beloof om ‘n besondere belewenis te wees.
Vanjaar se program sluit ‘n vlagseremonie deur die Voortrekkers in, waarna Jan-Danie Malan ‘n oorsig sal gee oor waaroor die dag gaan. Die verwerking van Modder en Bloed en Afrikanershart vir ‘n item deur die Chalkboard Champs, beloof ‘n hoogtepunt op die program te wees, vertel Kobie Ströh van die Vaal Kultuurnetwerk.
Meer oor die verskroeide aarde beleid en konsentrasiekampe sal deur Gys Ströh die oggend vertel word, asook oor die Vrede van Vereeniging en die opstaan na die oorlog.
Lewende voorstellings in die Konsentrasiekamp-begraafplaas wat onder meer die situasie in konsentrasiekampe gaan uitbeeld sal weer n besondere blik op die geskiedenis gee en sal daar ook ‘n kranslegging en Volkspele demonstrasie wees.



