Polisiesersant voor die hof vir ontvoeringsaak van graad 11-leerder
Enigeen met inligting wat die polisie kan help om Kamogelo te vind, of inligting oor die voorval het, is gevra om sers. Sabata Jafta Moseme te skakel by 082 526 2713, luitenant-kolonel Kelaotswe Lebodi by 082 527 6348, of luitenant-kolonel David Ramasoala by 082 527 7390.
Die 42-Jarige polisiesersant wat gearresteer is in verband met die ontvoeringsaak van die 19-jarige Kamogelo Baukudi, ‘n graad 11-leerder van die Marti du Plessis Skool in Fichartpark, het vanoggend vlugtig in die Bloemfonteinse landdroshof verskyn. Die saak is uitgestel tot 13 Junie vir n formele borgaansoek. Hy bly in aanhouding tot dan.
Die hof het gelas dat die identiteit van die sersant nie bekendgemaak sal word nie op versoek van die ondersoekspan.
Kamogelo is verlede Donderdag ontvoer deur mense wat hulle glo as polisiebeamptes voorgedoen het, en is daar steeds geen teken van hom nie.
Hy is op die betrokke dag om 11:55 in Vereeniging-rylaan in Ehrlichpark ontvoer nadat hy vroeër soos gewoonlik by die skool opgelaai is. Kamogelo en die persoon wat hom gewoonlik oplaai, het in ‘n Suzuki Ertiga gery toe hulle na bewering deur twee mans in ‘n wit Toyota Hilux dubbelkajuit bakkie, wat hulle as polisiebeamptes voorgedoen het, voorgekeer is.
Hulle is daarvan beskuldig dat hulle glo die voertuig gebruik om dwelms af te lewer. Die verdagtes het Kamogelo in hul voertuig ingdwing, en die klaer aangesê om na die Parkweg polisiestasie toe te ry. Terwyl hulle gery het, het die bakkie buite sig van die klaer geraak, en is Kamogelo sedertdien soek.
Die polisie se provinsiale kommissaris in die Vrystaat, luitenant-generaal Baile Motswenyane, sê die ondersoek is nou in ‘n kritieke fase en het weer die polisie se onwrikbare toewyding om die volle waarheid agter die misdaad aan die lig te bring, bevestig.
Enigeen met inligting wat die polisie kan help om Kamogelo te vind, of inligting oor die voorval het, is gevra om sers. Sabata Jafta Moseme te skakel by 082 526 2713, luitenant-kolonel Kelaotswe Lebodi by 082 527 6348, of luitenant-kolonel David Ramasoala by 082 527 7390. Mense kan ook inligting deurgee op die MySAPS-toepassing of skakel die Stop Misdaad-nommer by 08600 10111.



