Local newsNews

Krag: Ooreenkoms nog nie geteken tussen Eskom en Ngwathe

Eskom sê hy bly egter hoopvol dat ooreenomste in die nabye toekoms onderteken sal word. 

Die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit het nog nie ‘n verspreidingsagentskapooreenkoms met Eskom onderteken nie.  Eskom het vandeesweek bevestig dat verskeie gesprekke met munisipaliteite,  oor die ooreenkomste gevoer is, maar dat ooreenkomste nog nie onderteken is nie omdat raadsbesluite oor die kwessie hangende is.

In Ngwathe se geval is drie vergaderings met Eskom gehou, waarvan twee met die raad was.

Eskom sê hy bly egter hoopvol dat ooreenomste in die nabye toekoms onderteken sal word.

Die voorstel vir  ondertekening van verspreidingsagentskapooreenkomste tussen Eskom en Vrystaatse munisipaliteite wat groot bedrae aan Eskom skuld, het in Februarie gekom na ingryping deur die Minister van Elektrisiteit en Energie (MoEE), dr Kgosientsho Ramokgopa, as ‘n poging om volhoubare oplossings vir munisipaliteite te vind wat elektrisiteitsverwante finansiële probleme ondervind.

Minister Ramokgopa het toe finansieel benoude munisipaliteite aangemoedig om by Eskom betrokke te raak in onderhandelinge, en te oorweeg om die  aktiewe vennootskapooreenkomste te onderteken wat kan lei tot verspreidingsagentskapooreenkomste.

Die samesprekings met die minister was ‘n direkte uitvloeisel van publieke kennisgewings wat vroeër deur Eskom  vir die Ngwathe munisipaliteit sowel as die Nala, Moqhaka, Masilonyana en Nketoana Plaaslike Munisipaliteiteit geplaas is oor Eskom se voorgenome aksie weens die munispaliteite se volgehoue wanbetaling. ‘n Soortgelyke publieke kennisgewing is ook  op 29 Januarie vir die Mantsopa Plaaslike Munisipaliteit gepubliseer in ooreenstemming met die Wet op die Bevordering van Administratiewe Geregtigheid (PAJA).

Die inisiatief waaroor die minister in Februarie met die wanbetalende munisipaliteite na die kennisgewings in gesprek getree het, is ontwerp om munisipaliteite te help om hul dienslewering te verbeter deur Eskom se kundigheid in ingenieurswese, en inkomste invordering en finansiële bestuur, te benut. Eskom sê hy het met onlangse verspreidingsagentskapooreenkomste gesien hoe dit daartoe kan bydra om elektrisiteitsverliese te bekamp, munisipaliteite se skuldgroeikoers te verminder, en beide diensgehalte en betalingsvlakke te verbeter.

‘n Verspreidingsagentskapooreenkoms is ’n langtermynkontrak wat munisipaliteite met Eskom kan aangaan. Deur hierdie ooreenkomste verskaf Eskom verskeie dienste om die tegniese en finansiële kapasiteit van munisipaliteite te verbeter, om die volhoubaarheid van elektrisiteitsvoorsiening te verseker. Eskom verduidelik ook dat hierdie dienste vaardigheidsontwikkeling en opleiding, meterinstallasie of vervanging, en inkomste-invordering namens munisipaliteite, kan insluit.

Om onderhandelinge verder aan te moedig, het Eskom 11 munisipaliteite in die provinsie vroeër formeel genooi om aan besprekings deel te neem. Hierbenewens het die departementshoof van die Vrystaatse Departement van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake (COGTA), mnr. Tshepiso Ramakarane, met Eskom en die ses munisipaliteite waarvoor kennisgewings gepubliseeer is,  in gesprek getree om die belangrikheid te beklemtoon daarvan dat oplossings gevind moet word wat vir al die betrokke partye voordelig sal wees.

Eskom het daarna in Maart sy finale besluit bekend gemaak wat voorgenome ontkoppeling van grootmaat kragvoorsiening aan die Vrystaatse munisipaliteite waaroor publieke kennisgewings geplaas was, eers op ys gehou word terwyl gesprekke oor verspreidingsagentskapooreenkomste voortduur.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button