Twintig jaar tronkstraf vir die beskadiging van noodsaaklike infrastruktuur, en 15 jaar vir diefstal vanaf infrastruktuur.
Die hof het geen genade gehad vir twee kabeldiewe wat danksy die noue samewerking tussen die polisie en die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) suksesvol gevonnis kon word nadat hulle deur sekuriteitsbeamptes in 2022 in Hedendal betrap is waar hul besig was om seinkabels uit ‘n mangat te steel. Die gesteelde kabels is positief deur Transnet geïdentifiseer en het ‘n geraamde waarde van R56 000 gehad.
Vier beskuldigdes is oorspronklik op die misdaadtoneel in hegtenis geneem en is aangekla van die beskadiging van noodsaaklike infrastruktuur en diefstal vanaf infrastruktuur. Al vier is aanvanklik op borgtog vrygelaat, maar twee het later nie vir hul hofverskyning opgedaag nie, wat tot ’n skeiding van die verhore gelei het.
Deur noukeurige ondersoek en deeglike vervolging is die oorblywende twee beskuldigdes, die 31-jarige Lefa Olifant en 30-jarige Modise Lebuso, aan albei aanklagte skuldig bevind.
Die hof het beveel dat Olifant en Lebuso die 15-jaar vonnis vir diefstal gelyktydig met die 20-jaar vonnis moet uitdien,, wat beteken dat albei effektief 20 jaar tronkstraf sal uitdien.