Local newsNews

Menseregtekommissie-ondersoek in Ngwathe: Skokkende rioolstorting gesien

Die Menseregtekommissie het verskeie klagtes van inwoners van die Ngwathe Munisipaliteit ontvang oor dienslewering hoofsaaklik wat betref water- en elektrisiteitsvoorsiening en sanitasie.

Die ondraaglike stank met rioolwater wat opdam in die veld langs die R59 net buite Parys is Dinsdag aan ‘n ondersoekspan van die Mensregtekommissie uitgewys. Die ondersoekspan het die afgelope week saam met AfriForum en Save Ngwathe dié en veskeie ander punte in al die dorpe binne die Ngwathe munisipale gebied besoek  waar skokkende rioolstorting en gebrekkige dienslewering uitgewys en gedokumenteer is.

Dit volg na ‘n stroom van klagtes aan die kommissie oor dienslewering in die munisipaliteit.

Die rioolstorting langs die R59 buite Parys van nader gesien.
Lede van die Mense-regtekommissie saam met AfriForum-lede tydens die kommissie se ondersoek na rioolstorting langs die R59 vandeesweek.

Die ondersoek kom net dae na die verdoemende uitspraak in die Vrystaatse Hoë Hof waar bevind is dat die Ngwathe Munisipaliteit nie sy grondwetlike en administratiewe verpligtinge teenoor die inwoners van Parys, Heilbron, Vredefort, Edenville en Koppies nakom nie.

In ‘n geskiedkundige uitspraak het regter J.P. Daffue in die guns van Afriforum beslis, en moet die Ngwathe munisipale raad in terme van ‘n gestruktureerde hofinterdik ontbind. Die Vrystaatse provinsiale regering moet ook ingevolge die uitspraak met onmiddellike effek by dié munisipaliteit ingryp. Daffue het benadruk dat die munisipaliteit en sy raad disfunksioneel is, en was fel in sy kritiek teen provinsiale regeringsdepartemente, en die LUR vir Samewerkende Regering en Tradisionele Sake (SRTS) in die besonder, wat versuim het om in ooreenstemming met die grondwet by die munisipaliteit in te tree.

Hy het daarop gewys dat dié saak ‘n geskikte geval is waarby die hof die rol as waghond moet speel, en in ‘n ongewone beslissing gelas dat die premier van die Vrystaat sowel as die uitvoerende raad en die LUR’e vir SRTS, Finansies en Ekonomiese, Kleinsakeontwikkeling, Toerisme en Omgewingsake elke drie maande, onder eed en skriftelik, aan die hof verslag moet doen oor die vordering in die implementering van die bevel.

Kragtens Daffue se uitspraak moet die Vrystaatse premier, die provinsie se uitvoerende raad en die ander betrokke respondente in die saak, binne die raamwerk van artikel 139(5)(a) en (b) van die Grondwet ‘n herstelplan implementeer om dienslewering te herstel en toe te sien dat die munisipaliteit sy finansiële verpligtinge nakom; die raad ontbind en ‘n administrateur aanstel totdat ‘n nuwe munisipale raad verkies kan word. ‘n Tydelike begroting, inkomste-genererende maatstawwe of enige ander maatstawwe om uitvoering te gee aan die herstelplan moet ook in plek gebring word.

Daffue het verder beveel dat die Ngwathe-munisipaliteit tesame met agt ander respondente in die saak, waaronder die premier, AfriForum se regskoste moet betaal.

Die Ngwathe Munisipaliteit het in antwoord op die hofuitspraak, gesê dat die munisipaliteit se uitvoerende burgemeester, rdl. Victoria de Beer-Mthombeni, kennis neem van die uitspraak, en prosesse wat nou gevolg moet word sal kommunikeer nadat die detail van die uitspraak deurgegaan is.

Die burgemeester het egter oor die naweek in ‘n onderhoud met Newzroom Afrika gesê sy is geskok oor die uitspraak. Sy het Ngwathe se krisis toegeskryf aan probleme wat deur haar administrasie van vorige administrasies geërf is, en bygevoeg dat baie al gedoen is om van die munisipaliteit se diensleweringsprobleme aan te spreek. Sy het onder meer in die onderhoud verwys na vaardighede wat na die munisipaliteit gebring is om die leierskap-vakuum wat vir lank dienslewering in die munisipaliteit verlam het, reg te stel.

Sy het ook verwys na onder meer ‘n waterpyplyn tussen Edenville en Koppies wat einde Junie oorhandig word, woonhuise wat van elektritisiteit voorsien is, en dele van die Tumahole-woonbuurt wat na jare weer water het, maar was dit wat gedoen is oënskynlik té té laat en net ‘n druppel in die emmer teenoor die verdoemende getuienis wat voor die hof gehou is.

Selfs die munisipaliteit se ooroptimistiese begroting van R2.1 miljard vir 2025/26 wat as ‘n befondse begroting voorgehou is, is deur die Vrystaatse Tesourie verwerp kort voor die hofuitspraak toe dit bestempel is as ongefinansierd, onrealisties en nie in ooreenstemming met die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur nie. Selfs opposisiepartye het die begroting beskryf as ‘n onverantwoordelike, opgeblase projektering wat op denkbeeldige inkomste gebaseer is en wat werklike invorderingsyfers ignoreer en versuim om basiese dienslewering en infrastruktuurprioriteite aan te spreek.

Hoewel Ngwathe se uitvoerende burgemeester, rdl Victoria Mthombeni-De Beer op 25 Junie aan Gazette gesê het die raad sou tydens ‘n spesiale sitting Woensdagmiddag (25 Junie) besluit het of aansoek om verlof tot appél teen die hofbeslissing gedoen sou word, is ‘n aansoek om verlof tot appél volgens hofdokumente wat Gazette onder oë gehad het op 24 Junie geliaseer.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button