Dorp se kunstenaars het baie om te bied
"Kunstenaars koop nie by kunstenaars nie, maar saam kan ons soveel meer bied vir die dorp wat reeds die beste van beide wêrelde het - 'n sentrale ligging en pragtige natuur."
Geskilder, met klei gemaak, gegiet, of geink. Watter kunsvorm ookal – dié dorp het ‘n naam vir kuns. Stap jy in die hoofstraat van Pays sien jy die helder graffiti-kuns op mure, en pragtige werke in vele kunsgallery. Selfs op winkelstoepe. Dit is die hartklop van dié toerisme-dorp in die hart van die Vrystaat.
Tog het die dorp nie ‘n kunstevereniging gehad nie – tot nou.
Die leemte is raakgesien deur Lourens en Elzaan van Wyk, wat sedert 2011 ‘n kunsgalery in die dorp bedryf.
Hulle het skouer aan die wiel gesit, kers opgesteek by die Pretoriase Kunstevereniging en die Klerksdorpse Kunstekorps en uiteindelik het die Parys Kunstevereniging die lig gesien.
Die vereniging maak sy deure oop nie net vir kunstenaars in watter vorm ookal nie, maar ook die gemeenskap.
As nie-winsgewende organisasie wil dié vereniging kunstenaars en kunsliefhebbers bymekaar bring om die kunste in die dorp te bevorder.
Dit is ‘n passieprojek, gesels Elzaan, maar sê ook dat hulle die gemeenskap van Parys by die kunste betrokke wil kry sodat die vereniging ‘n positiewe bydrae kan maak tot die dorp se besighede, en die ontginning van Parys se toerismepotensiaal.
Hoewel die Van Wyks die leiding geneem het om die kunstevereniging te stig, sê Elzaan dat die vereniging deur die kunstenaars en die gemeenskap gedryf sal word.
Bestaande markte, gevestigde verenigings en strukture sal ondersteun word om kunstenaars meer blootstelling te gee, maar ook op dié manier inwoners en besoekers aan die dorp ‘n kunsbelewenis te bied.
“Die dorp spog met soveel venues en restaurante elk met ‘n besondere atmosfeer wat eindelose moontlikhede bied om die kunste na mense te bring,” sê Elzaan. Werkswinkels, demonstrasies, uitstallings, poësie- en musiekaande, boekvoorlesings, kompetisies, geleentheid vir mense om self kreatief te wees – selfs ‘n eie kunstefees vir die dorp, is van die idees wat op die tafel gesit is met die bekendstelling van die Parys Kunstevereniging verlede week by Plum Tree Restaurant.
‘n Uitstekende voorbeeld van wat die kunste vir die dorp kan doen was die Art a Drum-projek in 2023 geïnisieer deur MooiParys en Parys Info & Tourism.
Met die projek het 12 plaaslike kunstenaars die dorp se toerismejuwele op vullisdromme geskilder.

“Die gedagte is om soos met dié projek, te kan terugploeg in die gemeenskap,” sê Elzaan wat ook die voorsitter van die vereniging is.
Om aan te sluit en vir meer inligting skakel Elzaan by 064 308 4764 of stuur e-pos na parysartsassociation@gmail.com of elzaanvanwyk21@gmail.com



