Hof moet nou beslis ná Ngwathe-aansoek
Regter J.P Daffue het vroeër in die Vrystaatse Hoë Hof beslis dat die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit nie sy grondwetlike, wetlike en administratiewe verpligtinge teenoor die inwoners van Parys, Heilbron, Koppies, Edenville en Vredefort nakom nie.
AfriForum gaan die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit se aansoek om verlof tot appèl teen die hooggeregshof beslissing vir dringende provinsiale ingryping by die munsipaliteit, opponeer.
Die burgerregteorganisasie het aangedui dat die regter die saak nou vir argument moet plaas waarop beslis sal moet word of ‘n ander hof tot ‘n ander beslissing sal kom. Indien nie, staan regter J.P Daffue se bevel wat aan AfriForum toegestaan is.
Indien die appèlaansoek egter sou slaag, bly die hofbevel opgeskort totdat die aansoek by die Hoogste Hof van Appèl aangehoor word.
Regter Daffue het op 20 Junie die deurslaggewende beslissing gemaak dat die Ngwathe Munisipaliteit nie meer aan sy grondwetlike, wetlike en administratiewe verpligtinge teenoor sy inwoners voldoen nie. Die hof het gevolglik die ontbinding van die munisipale raad beveel, en die Vrystaatse provinsiale regering opdrag gegee om onmiddellik in te gryp.
Die uitspraak volg ná jare van verwaarlosing, onbevoegdheid en verval, waartydens inwoners van onder meer Parys, Heilbron, Koppies en Vredefort sonder betroubare dienslewering gelaat is. Volgens die hof moet die Vrystaatse uitvoerende raad binne die raamwerk van artikel 139(5)(a) van die Grondwet ‘n herstelplan opstel om dienste te herstel en skuldverpligtinge na te kom, die Ngwathe Munisipale Raad ontbind, en ‘n administrateur aanstel. Daar moet ook elke drie maande onder eed aan die hof verslag gedoen word oor vordering.
Die Ngwathe Munisipaliteit, tesame met agt ander respondente in die saak, waaronder die Vrystaatse premier, is ook volgens regter Daffue se beslissing verantwoordelik vir AfriForum se regskoste.
Ngwathe raadslede was Woensdag onder die indruk dat daar tydens ‘n spesiale raadsitting besluit sou word of dié munisipaliteit gaan appèlleer teen die uitspraak, maar moes toe uitvind dat die aansoek ‘n dag tevore al by die Hoë Hof in Bloemfontein geliaseer is.Ngwathe se uitvoerende burgemeester het kort voor die raadsitting Woensdagmiddag nog bevestig dat die Raad ‘n besluit in dié verband moet neem, en het gemeenskapslede buite die Forum-gebou bymekaar gekom om te eis dat die munisipaliteit die gemeenskap se belange eerste sal stel.
Die Raad het wel Woensdagmiddag gestem oor die kwessie, en het slegs ANC-raadslede ten gunste van ‘n aansoek om verlof tot appèl gestem. Die EFF het buite stemming gebly.
Die DA het na die raadsitting gesê hy veroordeel die ANC se misbruik van die Ngwathe Munisipale Raad ten sterkste, om ‘n besluit wat reeds agter geslote deure geneem is, bloot ‘af te stempel.’
DA-raadslid Carina Serfontein sê slegs die kwessie oor die aansoek was op die agenda. “Tot ons skok het ons verneem dat die munisipaliteit reeds op 24 Junie die appèlaansoek ingedien het — ‘n volle dag voordat die raad vergader het. Dit bevestig dat die vergadering niks meer as ‘n rookskerm was nie, ‘n poging om ‘n voorafbepaalde besluit te legitimeer sonder om die behoorlike proses te volg, of deursigtige konsultasie met alle raadslede te voer,” het Serfontein gesê.



