Inwoners kry bal aan die rol vir dorp se rolbalklub
Balle is beskikbaar vir diegene wat graag die spel wil leer. Die klub is Woensdae om 17:00, en Saterdag om 14:00 oop vir spel.
Toe dit wou lyk of Koppies se rolbalklub op die punt is om dood te loop, het inwoners van dié dorp en distrik self moue opgerol om die bal aan die rol te kry om die klub te red.
Klublede is gewerf, en daar is begin om self die klubgebou te restoureer. Sonder fondse is daar vir maande self gewerskaf met die hulp van ‘n paar weldoeners.
Groot was die vreugde toe die klub die eerste keer in vyf jaar weer ‘n ope-dag op 21 Junie kon aanbied. Veertien spanne het ingeskryf – van so ver as Harrismith tot by Meyerton.
Nie eens die baan wat nog werk nodig het, kon spelers se geesdrif demp nie, en het ook heelwat jonger spelers hul talent kom wys.
Baie planne word nou gemaak om die klub uit te brei en die baan weer in top kondisie te kry. Boonop is die trots groot dat die fasiliteit behou kon word tot voordeel van die dorp se inwoners.
Ervare of ‘n groentjie, oud of jonk – selfs nuwe intrekkers word genooi om ‘n draai by die klub te maak, en nuwe vriende te ontmoet.

Gesels met Adri Viljoen by 083 259 4995 vir meer inligting.



