Local newsNews

‘Ek wil terugkyk en weet ek het my lewe geleef’

Ten spyte daarvan dat sy blind is, het Genevieve Croeser met elke uitdaging wat op haar pad gekom het, gewys dat moed opgee nie 'n opsie is nie.

Sy ken die pad. Tel die treë. Weet hoe hoog en hoe ver die trappe uitmekaar is. Hy is haar oë wat uitkyk vir gevaar en versperrings op hul pad. Ingestel op mekaar se behoeftes lei hy haar na haar bestemming. Sy die GPS-stem, en hy haar oë.

So vind Genevieve Croeser, oudleerder van Hoërskool Parys haar pad op die NWU se Potchefstroom-kampus saam met haar getroue gidshond, Brinkley, ‘n Labrador/Golden Retriever-kruising.

Genevieve Croeser en haar gidshond Brinkley.

Genevieve is ‘n finalejaar student in BA Regte met Sielkunde. Volgende jaar wil sy haar Honneursgraad – of in sielkunde of in regte doen, maar wat uitstaan is Genevieve so ongelooflike toewyding en prestasie ten spyte van haar gesiggestremdheid. Vir die afgelope twee jaar het sy haar Golden Key-lidmaatskap verwerf wat net vir die top 15% van studente beskore is. In beide jare was sy ook die beste BA Regte student op al drie die NWU-kampusse geleë in onderskeidelik Vanderbijlpark, Potchefstroom en Mahiheng.

Uitdagings vir ‘n blinde persoon is daar baie op ‘n studente kampus waar daar nie altyd duidelike bakens is vir haar en Brinkley om te volg nie. Om nie eens te praat van die konsternasie wat ‘n draaihek vir dié twee veroorsaak nie, of wanneer ‘n student skielik op kampus sou gaan stilstaan, besig met hul selfone. “Dit het al vir ons baie pret-oomblikke gegee,” vertel Genevieve. Maar struikelblokke soos dié kry Genevieve nie onder nie.
Die lewe het haar een ding geleer – droom groot, want elke struikelblok is die eerste tree na ‘n oplossing.

Dit het sy al meer as een keer bewys. Op 20-jarige ouderdom het sy haar eerste boek, Not quite meant to be, onafhanklik gepubliseer. Haar liefde vir perde soos ‘n goue draad deur die storielyn geweef.

As kranige ruiter is dit haar droom om perd ondersteunende terapie eendag deel te kan maak van ‘n beroep in sielkunde. Perdry het baie voordele, veral in die terapeutiese proses, vertel sy, maar sê ook dat dié terapie-veld in Suid-Afrika nog baie beperk is. Juis daarom wil sy graag in die buiteland haar meestersgraad studie in sielkunde doen. Dit fassineer my om te leer hoe mense se gedagtes werk, en hoekom hulle doen wat hulle doen, vertel sy, en vergelyk dit met die bou van ‘n legkaart.

Oor wat sy reeds bereik het in haar lewe, sê Genevieve dat alles in die lewe gaan oor die keuses wat jy maak. “Ek wil graag terugkyk en weet ek het my lewe geleef,” sê sy dan.

Wanneer sy en Brinkley hul kampus-draaie loop, is dit nog een van haar drome wat bewaarheid is. Dit, danksy ‘n jongmeisie se onwrikbare geloof en die wete – ek kan, ten spyte van.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button