Bejaarde vrou se trauma ná sypaadjie-val nie verby nie
Vyf maande nadat sy op ongelyke sypaadjie-randstene geval het, en verskeie frakture opgedoen het, moet Lehane Rothman 'n skouervervangingsoperasie kry as gevolg van die beserings wat sy aan haar skouer opgedoen het.

Sy sukkel moeisaam na die tuinhekkie van haar meenthuis om oop te sluit, en maak verskoning vir die skilpad-stap. Haar treë onseker. Die vrees vir val duidelik. Dit is vyf maande sedert daardie nagmerrie-oomblik toe Lehane Rothmann (81) op die ongelyke sypaadjie plaveistene in Phillipstraat voor International Clothing geval het.
In ‘n oogwink het haar lewe verander. ‘n Pynlike stryd na verskeie frakture wat sy met die val opgedoen het, en wat steeds nie verby is nie.
Haar skouer, arm, heup en bekkenbeen is beseer, en hoewel sy nou al gemakliker loop, wag ‘n skouervervanging as gevolg van haar besering.
Soos Annelise Moses wat onlangs in ‘n oop stormwaterdrein in die Esplenade langs die rivieroewer in Parys geval het, spook die trauma wat Lehane beleef het by haar. “Ek skrik wakker saans van die nagmerrie met my hande al vattend na die kragboks waar ek my val daardie dag probeer stuit het,” vertel sy met die trane wat oor haar wange loop.
“Ek is ‘n kunsmens. My hande is my lewe. Wat jy kan dink om met jou hande te doen, het ek gedoen,” vertel sy dan en wys trots haar handewerk. Van kunsvlyt tot blommerangskik. As afgetrede musiekonderwyser is klavier en orrelspeel steeds haar hartsliefde, maar die orrel kan sy nie meer speel nie. Dit is net té pynlik om die musiekboek geblaai te kry wanneer sy speel. “Ek is links,” sê sy dan en vertel hoe sy die afgelope maande moes leer om met haar regterhand dinge te doen.

Vir dié pynlik netjiese vrou wat jy altyd deur ‘n ring kan trek, is dit ‘n stryd om alledaagse dinge te doen, soos om haar hare te kam en te grimeer. “Om myself aangetrek te kry is ‘n stryd. Ek leef van pynpille.”
Selfs om te bak, iets waarvoor sy so lief was, is moeilik so met die een hand, want die beseerde skouer gee baie las.
Die dag van die val onthou sy soos gister. Hoewel sy altyd baie versigtig is en mooi kyk waar sy trap, het iemand daardie oggend haar gegroet. Net vir ‘n oomblik het sy opgekyk, en dit is toe dat haar voet vashaak, en sy die frakture aan haar linkerkant van haar lyf opgedoen het. “Daar was engele om my wat my die dag gehelp het,” vertel sy dankbaar. Vandag nog is dit engelhande wat haar dra – haar kinders, haar vriende, haar bure.

“Dit is hulle wat sorg dat ek kos het en my neem waar ek moet wees,” gesels sy. Alles dinge wat sy voorheen onafhanklik kon doen. Hoewel sy kort afstande bestuur, is die pyn daar, en die bang om te val as sy alleen is, ‘n werklikheid.
Niemand wil pa staan vir die koste wat dié nagmerrie haar uit die sak gejaag het nie, sê sy. Hoewel sy ‘n mediese fonds het, het haar fondsvoordele nie al die koste van haar behandeling gedek nie. Sy wag ook steeds vir goedkeuring van haar mediese fonds vir die prostese vir haar skouervervanging.
Net haar verblyf in die versorgingsoord waar sy uiteindelik drie maande lank was, het meer as R30 000 gekos. Alles uit haar eie sak.
“Ek kan nie anders as om soos wyle koningin Elizabeth dit my annus horribilis jaar te noem nie, maar ek kyk verby my seer en besef daar is ander wat swaarder as ek kry,” sê sy dan met ‘n moedige glimlag, kruk in die hand.
Volgens prokureur Mari Meyer is ‘n munisipaliteit volgens munisipale wetgewing en onderhewig aan die konstitusie, verantwoordelik vir die lewer van basiese dienste deur die skep van nuwe infrastruktuur, en onderhoud van bestaande infrastruktuur. Daar is gevolglik ‘n regsplig op ‘n munisipaliteit om skade te voorkom, en sorg te dra dat infrastruktuur, onderhou word, des te meer waar die publiek die spasie gebruik -soos op sypaadjies.



