Seun in hegtenis ná pa se dood
Daar word beweer dat die oorledene en sy seun kort voor die aanranding oor ’n sigaret gestry he
Die polisie in Vredefort het ’n 32-jarige man in hegtenis geneem in verband met die dood van sy 61-jarige pa ná ’n beweerde aanranding.
Volgens sersant Josephine Rani het polisielede Sondag 2 Augustus omstreeks 16:10 gereageer op ’n klagte van ’n beweerde aanranding by ’n woning in die Mapetla-gedeelte van Mokwallo.
Met hul aankoms het polisiebeamptes die 61-jarige slagoffer, mnr. Ndode Lenong, op ’n bed aangetref. Hy het beserings aan sy kop en ’n geswelde gesig gehad.
Die polisie is meegedeel dat hy na bewering deur sy seun met ’n onbekende voorwerp aangerand is.

Die slagoffer is na die Parys-hospitaal vervoer en later na ’n hospitaal in Bloemfontein oorgeplaas vir verdere mediese behandeling. Hy het egter Maandag 3 Augustus aan sy beserings beswyk.
Daar word beweer dat die oorledene en sy seun kort voor die aanranding oor ’n sigaret gestry het.
Die 32-jarige verdagte is by sy woning in hegtenis geneem en aangekla van moord.
Hy sal na verwagting binnekort in die Vredefort-landdroshof verskyn.



