Local newsNews

Omgeehande leer Evas die kuns van teddies maak

Doen jouself 'n guns en sluit aan by dié gesellige groep. Alle vroue is welkom, oud of jonk, kunstig of nie, daar is plek vir jou. Kom net soos jy is.

Daar is op 12 Julie geknip, gestop en gestik vir ‘n vale in die kerksaal van die NG gemeente Parys-Suid waar unieke, kreatiewe omgee-teddies die oggend gemaak is saam met Charmain Domingo. Charmain het haar talent en vaardigheid met die Evas kom deel met die wêreld se geduld om seker te maak elke teddie is ‘n meesterstuk.

Die Evas het oorspronklik begin met ‘n lighartige gesprek oor ‘n koppie koffie na kerk wat gelei het tot die gesellige maandelikse samekoms van vroue in die kerksaal. Gepas genoem, Die Evas, is die inisiatief daarop gemik om vroue van alle ouderdomme bymekaar te kry om vaardighede te leer, geïnspireer deur die Bybelse beginsel dat ouer vroue die jongeres moet leer.
Tog het dit gou geblyk dat dit ‘n oor-en-weer leerdery sou wees waar oor die afgelope maande hegte vriendskappe gesmee, en vele kreatiewe en praktiese idees gedeel is. Van papiervoukuns, basiese Macramé, en kleimodellering, tot die dek van ‘n tafel, versierkuns, die gebruik van ‘n kleurpallet, die kuns van skilder, en vele meer.

Wat die Eva-byeenkomste so uniek maak is dat die vroue hul vaardighede gratis met ander deel, en elke samesyn afgesluit word met verversings wat ook self deur die vroue gemaak word. Benodigdhede vir elke samekoms word voorsien danksy oop harte wat help met bydraes.

n Voorbeeld van die teddiebere wat die dag gemaak is.

So is Saterdag se koue weggedryf met die allerlekkerste sop en warm omgeeharte.

Daar is gesny, gestik en gestop vir n vale aan die teddiebere

Dié keer was daar selfs twee Adams wat hul plek volgestaan het tussen die Evas. Christo Britz het sy eerste naaldwerk-vuurdoop gehad en die vroue gehelp met die stikwerk, terwyl oom Joggie fluks die soppotte beman en die koffiewater warm gehou het. Die gemeente se koster, Theo Dunn, is ook met elke Eva-byeenkoms op sy pos om seker te maak die saal is oop.
Dankie aan Willeria Roux wat vir baie van die teddies ‘n naam en datum geborduur het, Charmain Domingo vir die leersame oggend, Susan Britz en haar span wat gehelp het met die reëlings, en elkeen wat met sop of ‘n vriendelike glimlag kom meedoen het aan die sukses van die oggend.

Die vroue het dit terdeë geniet om die vaardigheid te leer en kon getuig van die terapeutiese waarde wat die maak van die teddiebere gehad het.

As jy nuwe vaardighede wil aanleer, of as jy ander met jou vaardigheid wil bemagtig, skakel Susan by 061 091 4609 om ingesluit te word by die WhatsApp groep waar die program en datums deurgegee word.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button