Uhuru pootjie oud Vredefort-leerder op sy pad na miljoenêr-kruin
Gideon Wentink was naas sy deelname aan die vasvra-program, Wie word 'n miljoenêr, ook die publieke wenner van die Woordmeesters-kompetisie.
Stewig op pad na die miljoen rand kruin, was dit Kilimanjaro se Uhuru-piek wat Gideon Wentink uit die warm stoel gehaal het van KykNET se gewilde vasvra-program, Wie word ‘n miljoenêr.
Gideon,’n boorling van Vredefort en lektor in rampstudies aan die Noordwes-Universiteit se Potchefstroom-kampus, was op 13 Augustus een van die deelnemers van die program. Hy vertel dat hy glad nie verwag het om deel te neem nie. Wat nog te sê van die eerste deelnemer van die episode te wees om voor aanbieder Rian van Heerden te sit.
Hoewel hy verkeerd was oor Uhuru wat nie een van Kilimanjaro se vulkaniese kieëls is nie, is Gideon huis toe met ‘n stewige R50 000 prysgeld. Daarmee wil hy onder meer vir sy drie seuns elkeen ‘n behoorlike fiets koop.
Oor sy ervaring op die kassie vertel hy dat dit senutergend is as die vrae kom, en jy maklik in jouself kan begin twyfel. Die druk is groot, en as jy té lank vat om te antwoord is daar nog die skuldgevoel dat jy ander deelnemers dalk ‘n kans om hul kennis te toets, ontneem.
“Maar die produksiepersoneel berei jou goed voor oor wat jy in die ateljee te wagte kan wees,” vertel Gideon.
“Wat jy moet weet, is dat om in die gemak van jou sitkamer vrae te antwoord, en om self in die ateljee te wees, nie dieselfde is nie,” sê Gideon, “want daar voor die kamera moet jy kophou en senuwees van staal hê.”
Jy kan nie voorberei vir die kompetisie nie , maar gelukkig vir Gideon is hy geseën met ‘n goeie geheue, en het van kleins af ‘n liefde vir lees gehad – of dit koerante of boeke is. “Jy leer selfs uit fiksie iets,” vertel hy.
Sy eintlike liefde lê by dokumentêre programme oor die natuur en geskiedenis. Dan het hy ook ‘n belangstelling in vlae, en kon hy ‘n vlagvraag wat hy gekry het, met gemak antwoord.
Gideon het grootgeword op ‘n plaas tussen Vredefort en Kroonstad. Voor hy drie jaar oud geword het, het sy ouers Vredefort toe getrek, en gaan hy skool by Chris van Niekerk skool waar hy ook matrikuleer.
Sy lewe lank sing hy koor, en het Erna Rademan en sy ouers ‘n groot invloed op sy liefde en kennis van musiek gehad, vertel hy. “Jy kan maar sê ek het in ‘n kultuurhuis grootgeword.”
Hy is die afgelope 10 jaar verbonde aan die NWU waar hy ook studeer het.
Oor sy deelname aan Wie word ‘n miljoenêr, vertel Gideon dat hy die advertensie raakgesien het, en aspirant deelnemers daarin gevra word om ‘n paar algemene kennis toetsvrae te antwoord. Doen jy goed in die toets kan jy dalk genooi word vir ‘n onderhoud met die produksiespan waar jou kennis weer getoets word – maar sonder antwoordopsies soos op die program.

Na al die voorbereiding om seker te maak die ses deelnemers weet wat van hul verwag word in die ateljee, begin die kameras rol.
Elke deelnemer kan ook ‘n ondersteuneer saamneem, en was Gideon se vrou, Catrien, saam met hom in die ateljee.
Gideon het na sy deelname aan Wie word ‘n miljoenêr ook TV-nuus gehaal nadat hy die publieke wenner was van die Woordmeesters-kompetisie wat deur Akademia aangebied is.
Die top drie in sy kategorie het op 14 Augustus teen mekaar te staan gekom in drie rondtes waar hul kennis van spelling en definisies, foute in sinne en breër taalkennis getoets is.



