Local newsNews

Bek-en-klou: Pleidooi vir privatisering van entstowwe

Die Vrystaat het nou agt bevestigde gevalle van Bek-en-klouseer waarvan die meeste in die Moqhaka-munisipaliteit is. Van die bevestigde gevalle is vier in die Kroonstad-omgewing (Moqhaka), een in die Deneysville-omgewing (Metsimaholo), twee in die Viljoenskroon-distrik (Moqhaka), en een in die Cornelia-distrik (Mafube). Volgens die Vrystaatse Departement van Landbou en Landelike Ontwikkeling is plase en gemeenskaplike …

Die Vrystaat het nou agt bevestigde gevalle van Bek-en-klouseer waarvan die meeste in die Moqhaka-munisipaliteit is. Van die bevestigde gevalle is vier in die Kroonstad-omgewing (Moqhaka), een in die Deneysville-omgewing (Metsimaholo), twee in die Viljoenskroon-distrik (Moqhaka), en een in die Cornelia-distrik (Mafube).

Volgens die Vrystaatse Departement van Landbou en Landelike Ontwikkeling is plase en gemeenskaplike weidingsgebiede wat geraak is onder kwarantyn geplaas, terwyl plase binne ‘n 10km radius van die besmette plekke onder voorlopige kwarantyn geplaas is. Die departement monitor die situasie in Moqhaka, Metsimaholo en Mafube en word inentings op die besmette plase en gemeenskaplike weiding geprioritiseer om verdere verspreiding te beperk, en virale lading te verminder.

TLU SA het intussen ‘n formele skrywe aan landbouminister John Steenhuisen gerig oor die Bek-en-klouseer uitbraak, en is ‘n dringende beroep op die regering gedoen om die produksie en verspreiding van Bek-en-klouseer-entstowwe te privatiseer. Onder bestaande wetgewing mag slegs die staat hierdie entstowwe hanteer, wat die reaksietempo vertraag en die ekonomiese risiko vir boere vergroot. Die organisasie sê die situasie is reeds ‘n ernstige ekonomiese en landboukrisis, en is hulle bekommerd oor die staat se beperkte kapasiteit om die uitbraak doeltreffend te beheer.

Gevalle van die siekte het sedert Februarie drasties toegeneem.

TLU SA sê daar is nie genoeg staatsveeartse, inspekteurs of middele beskikbaar om uitbrekings konsekwent te hanteer nie. Die verspreiding van vee sonder voldoende beheermaatreëls vererger die situasie.

“Boere ly finansiële skade sonder enige vergoeding van die staat. Marktoegang word beperk, rakpryse fluktueer, en die ekonomiese oorlewing van boere word direk bedreig. Hierdie ramp raak reeds verbruikers en beïnvloed die stabiliteit van die vleismark.” sê Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA.

Argieffoto ter illustrasie van die sere
kenmerkend van Bek-en-klouseer.

Wat is Bek-en-klouseer:
Bek-en-klouseer word deur ‘n virus veroorsaak by diere met gesplete hoewe soos beeste, skape, varke en bokke. Tipiese simptome is lusteloosheid, sere in die bek en aan die pote en oormatige afskeiding van speeksel. Mense kan nie Bek-en-klouseer kry nie, maar dit versprei deur voertuie, klere, hande en voete as jy met besmette diere in aanraking was.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button