Om te spin is hier die in-ding
Mense is baie opgewonde oor die pitch en donasies het al begin inkom. Teen 'n toeskouersfooitjie kan mense kom kyk na die spinners sodra die King Jayy Spin Pitch oop is.
Aan die kant van Parys se nywerheidsgebied wat baie nog ken as Basa Park, leef ‘n pa en seun se drome op die King Jayy Spin Pitch.
Dit is hier waar Sampie Scholtz, en sy seun, Jason, die opgewarmde enjin van ‘n BMW E30 laat dreun en spin dat die rook trek.
Eenkant op ‘n steenmuurtjie sit kinders groot oog en kyk as die 18-jarige Jason agter die stuurwiel van die BMW inskuif.
“Die kar is top of the class,” beduie Sampie terwyl Jason tussen die rookwolke strepe op die sement trek.
Vier maande terug het Sampie en Jason begin om die perseel skoon te maak nadat hulle toestemming van die eienaar van die perseel gekry het.

Nou word hard gewerk om die perseel te beveilig want toeskouers moet weg van die spin pitch staan, beduie Sampie.
“Veiligheid kom eerste. Die kinders raak so opgewonde, maar as hier gespin word, word niemand naby toegelaat nie,” sê hy. Hulle wou juis die spinners van die pad af kry om hier op ‘n wettige plek hul opgewarmde enjins te kom spin, sê pa en seun.
Sampie het van kleins af karre gespin, en het self die aanpassings op Jason se kar gemaak. Soos sy pa is die liefde vir karre in Jason se bloed.


“Ek wou hom nog leer, maar toe klim hy in en spin beter as ek,” sê Sampie met ‘n pa se trots.

“As mense hier na die pitch toe kom wil ons weet of hulle spinners is en hul storie ken met die karre. Ons wil nie hê mense moet hier kom kanse vat en dan onverskillig wees nie,” sê Sampie.


As jy wil bydrae of sommer net wil gesels oor dié warm enjins, kontak Sampie by 073 049 2069.



