Local newsNews

Hekelnaalde wikkel vir Chrissanloo Huis se kinders

Dankie aan die groep dames vir die inisiatief wat geneem is om ook op hierdie manier uit te reik na dié kinders met elke item wat handgemaak is.

Die dames van Common Threads het hul harte oopgemaak vir die kinders van Vrystaat Versorging in Aksie (VVA) se Chrissanloo Huis van Veiligheid in Parys.

Die hekelpenne het behoorlik gewikkel om die allermooiste sagte teddiebere, speelgoed en komberse vir die kinders te maak wat weens omstandighede noodgedwonge uit hul ouerhuise verwyder moet word.

 

Die dames van Common Threads met van die handgemaakte artikels wat vir die kinders van Chrissanloo Huis gemaak is.

Chrissanloo Huis het sy deure op 1 September geopen. Die artikel oor Chrissanloo Huis het op 9 Augustus in Parys Gazette verskyn :

Chrissanloo – nie net ‘n huis, maar ‘n tuiste

In dié huis sal kinderlaggies gehoor word. Klein voetjies sal baljaar in die tuin en op klimrame wanneer Chrissanloo Huis op 1 September sy deure oopmaak. ‘n Veilige hawe vir kinders wat tot nou toe net die skadukant van die lewe leer ken het, en wat weens mishandeling of verwaarlosing noodgedwonge uit hul ouerhuise verwyder moet word. Tot 78% van hierdie kinders kom uit huise waar daar dwelm- en drankverslawing is, en is blootgestel aan erge verwaarlosing en mishandeling.

‘n Hartseer realiteit as jy na die syfers kyk. Drie-en-dertig kinders in die plaaslike gemeenskap wat alreeds tot dusver vanjaar uit ouerhuise verwyder is, en in jeugsorgsentrums in nabye dorpe geplaas moes word, omdat hier geen heenkome vir hulle was nie. Weg van hul skool, en dit wat vir hulle bekend is.
Vir maande is daar gedroom, gebid en gewerk om ‘n huis van veiligheid ook in Parys te kan hê.

Danksy ‘n skenking aan VVA deur die Chris en Susan Prinsloo Trust is dié droom bewaarheid toe ‘n geskikte huis gekoop, en op 1 April aan VVA oorhandig is. Die huis is ook na die egpaar vernoem.

Daarna het die harde werk begin om die huis te kon inrig as huis van veiligheid, en nodige herstelwerk te doen. VVA-voorsitter André Wesseloo se toewyding waarmee oplossings gesoek is vir elke uitdaging, die bestuur van Chrissanloo Huis, en besighede en die gemeenskap van Parys se ongelooflike ondersteuning, het verseker dat dié huis omskep kon word in ‘n ware tuiste waar ‘n maksimum van twaalf kinders tydelik gehuisves sal kan word vir ‘n tydperk van drie maande onder die sorg van ‘n huismoeder.

Na drie maande kan die hof besluit om die kinders terug te plaas in die sorg van hul ouers of familie, of die tydperk in ‘n huis van veiligheid verleng na ses maande. Daarna word die kinders oorgeplaas na ‘n jeugsorgsentrum.

Die huismoeder en bestuurspan van Chrissanloo Huis sal omsien na die dag-tot-dag behoeftes van die kinders en toesig oor die bestuur van die huis. Die bestuurslede is Susan van der Merwe, Arnold de Beer, Frik van Niekerk, Margory Mommsen, Rikki van der Westhuizen en Alicia Marx (voorsitter). VVA sal steeds verantwoordelik wees vir die finansiële bestuur van die huis.

Met die huis wat nou gereed is om die kinders te kan ontvang, is daar ‘n voortdurende behoefte aan toiletware, kinderklere, en veral ook speelgoed vir die kinders. Enige skenkings is welkom en sal ‘n verskil vir hierdie kinders maak. Skenkings kan by VVA se kantoor in Buitenstraat afgegee word, of skakel Sanette by 079 324 0603.

 

 

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button