Oom Paul gaan toer: Vereeniging, Parys, is julle reg?
Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) en die Orania Ontwikkelingsmaatskappy (OOM) is die dryfkrag agter hierdie geskiedkundige projek, terwyl ander instansies van die Solidariteit Beweging, naamlik AfriForum, Helpende Hand en Solidariteit ook gehelp het om die projek finansieel moontlik te maak.
’n Ewebeeld van die Paul Kruger-standbeeld wat op Kerkplein in Pretoria staan, vertrek binnekort vanaf die Voortrekkermonument, en sal Maandag 29 September in Vereeniging en Parys aandoen. Hierdie gemeenskappe gaan die geleentheid hê om die standbeeld van naby te besigtig en foto’s te neem, terwyl Parysenaars boonop ’n unieke opvoering van ‘n NP van Wyk Louw-toneelstuk, getiteld, Kruger breek die pad oop, sal kan geniet.
Die Maandagoggend gaan die standbeeld om 10:00 by die Vredesonderhandelingsterrein in Vereeniging wees, en om 18:00 begin die verrigtinge vir die toneel-opvoering by Udolpho net buite Parys.
Die FAK het enkele jare gelede ’n digitale skandering van die Kruger-standbeeld op Kerkplein in Pretoria gemaak en die moontlikheid het ontstaan om ’n nuwe afgietsel van die beeld te maak.


Cara Tomlinson, kultuurkoördineerder van die FAK, sê die nuwe Kruger-standbeeld is deur beeldhouer Jacques Müller gemaak, en sy eindbestemming is Orania.
Müller het nadat die oorspronklike beeld in 3D afgeneem en gedruk is, die nuwe beeld in brons gegiet. . Die beeld met sy voetstuk bygereken – staan meer as 10 meter hoog, en weeg 1,5 ton,” sê Tomlinson.

’n Voorlopige terreinontwikkelingsplan vir Orania se nuwe stadskern is reeds ingedien en dit is hier waar die Kruger-standbeeld ’n sentrale plek sal inneem.

- Potchefstromers kan die beeld op 26 September sien waneer dit om 17:30 by die NHKA gemeente in Potchefstroom sal wees.
Hier is die volledige toerprogram:
https://fak.org.za/kom-trek-saam-met-paul-kruger/



