Ondersoek na onwettige jag lei tot arrestasie van 24
Die verdagtes was met die skryf van hierdie berig nog in aanhouding.

Samewerking tussen plaaslike boere, die Ermelo SAPD, die SAPD Veediefstaleenheid en die Dierebeskermingsvereniging (DBV) het op 21 September gelei tot die inhegtenisname van 24 verdagtes, en die beslaglegging van 50 honde wat verband hou met ‘n ondersoek na die onwettige jag met honde in die Ermelo-distrik.
Agt van hierdie honde is deur die DBV in bewaring geneem, terwyl die oorblywende twee en veertig aan hul eienaars oorhandig is, met die voorwaarde dat die honde in hul besit bly totdat die saak afgehandel is. Verskeie voertuie wat by die onwettige jag gebruik is, insluitend twee minibus-huurmotors, twee sleepwaens vir honde, en een ligte afleweringsvoertuig, is ook op beslag gelê/
“Hierdie suksesvolle ondersoek is ’n duidelike voorbeeld van hoe samewerking tussen boere, wetstoepassers en dierebeskermingsorganisasies ’n groot verskil kan maak,” sê Ronnie Schilling, TLU SA se Oosstreek Streekbestuurder.
Volgens TLU SA is hierdie saak die tweede groot ondersoek van die aard binne net ’n paar weke, en het die organisasie ‘n beroep op plaaslike gemeenskappe gedoen om verantwoordelik op te tree en sorg te dra dat alle jagaktiwiteite binne die raamwerk van die wet plaasvind. Strukture, prosedures en volledige kennis van reëls en regulasies is nie opsioneel nie; dit is noodsaaklik, het die organisasie geê.



