Demensie: Leefstylkeuses maak saak
Selfs geringe aanpassings in jou leefstylkeuses kan 'n verskil maak in jou gesondheid wanneer jy ouer word.
Tot 45% van demensie risikofaktore is voorkombaar deur te let op jou dieet, aan die beweeg te bly, jou brein die kans te gun om te rus nie net deur genoeg slaap nie, maar ook deur jouself soms af te skakel van die gejaag, en vroegtydig aandag te gee aan sig- en gehoorprobleme.
So sê dr. Kobus Scholtemeyer, praktiserende sielkundige en kenner in kliniese hipnoterapie wat Dinsdag by Sally Martin Park op Demensiedag gesels het oor oorsake van demensie, die nuutste navorsing, en die uitskakel van risikofaktore deur ‘n gesonde leefstyl. Hy het klem gelê daarop dat hoewel ouderdom, genetika en familiegeskiedenis ‘n rol speel by demensie, dit nie altyd ‘n gegewe is nie, en mense verantwoordelikheid moet neem vir hul gesondheid.
Gesonder are verseker beter bloedtoevoer, en moet faktore soos cholesterol, rook, depressie en ‘n onaktiewe leefstyl juis vermy word, het hy gesê.
Scholtemeyer het klem gelê op nuwe navorsing wat bewys het dat ouer persone met gehoorprobleme wat gehoortoestelle begin gebruik het, tot 48% minder kognitiewe agteruitgang gehad het, terwyl pasiënte wat nie hulp gekry het nie, hulself meer sosiaal begin isoleer het, en vinniger agteruitgang getoon het.
Hy het verduidelik dat demensie die oorkoepelende term is vir die agteruitgang in geheue, denke en daaglikse funksionering, met Alzheimer se siekte wat slegs een van die tipes demensie is, en by verre die bekendste.

Kenmerkend van demensie is geheueverlies en die onvermoë om jouself verbaal te kan uitdruk, disoriëntasie ten opsigte van tyd, plek en mense, die onvermoë om te kan redeneer en besluite te neem, en gedrags- en gemoedsveranderinge.
Hoewel Alzheimer ‘n vorm van demensie is, is nie alle demensie Alzheimers nie. Demensie kan ook deur ander faktore veroorsaak word soos beroerte.
Scholtemeyer het die rol van endorfine verduidelik en gesê endorfine help met pynregulering en die hantering van spanning. Chroniese onderdrukking van emosies het egter ‘n negatiewe uitwerking op spanningsvlakke en breingesondheid.
Uit sy belangstelling in neuropsigologie en demensie sorg, het hy met deernis gepraat oor die versorging van hulle met demensie, en beklemtoon dat versorgers ook na hul eie welstand moet omsien – nie net liggaamlik nie, maar ook deur met iemand te praat omdat versorging emosioneel uitmergelend kan raak.
Kry ‘n uitlaatklep waar jy kan praat oor jou gevoelens – hetsy dit ‘n ondersteunersgroep, iemand in jou vriendekring, of professionele hulp is.
Pasiënte met demensie bly mense met behoeftes.
Hulle het ‘n behoefte daaraan om te gesels, selfs al sou dit nie sin maak nie. Hulle het ‘n behoefte aan aanraking, en om geliefd te voel.
En dan is daar hul fisiese behoeftes, waarna omgesien moet word, om seker te maak hulle is nie net versorg nie, maar ook veilig.
Maak seker dat die pasiënt ‘n daaglikse roetine het en kalm is.
Kommunikeer met hom/haar in kort, duidelike sinne. Breek take op in kleiner stappe met beperkte keuses, was sy raad.
Etikette, foto’s, kalenders en ander sigbare hulpmiddels kan ook baie help, tewyl die waarde van betekenisvolle stimuleringsaktiwiteite soos kuns, musiek, oefening en uitkom in die natuur nie onderskat moet word nie.
Daarenteen moet geraas, ‘n oormaat van sitmulering en konflik vermy word, sê hy.
Daar is tans by sekere laboratoriums toetse beskikbaar wat ‘n diagnostiese aanduiding van die waarskynlikheid vir Alzheimers by pasiënte kan bepaal, terwyl op farmakologiese gebied, ook in sekere lande soos Amerika, medikasie beskikbaar is vir die vroeë stadium van Alzheimer se siekte. Die medikasie is nog in SA beskikbaar nie.
Sally Martin Park
Die behoefte vir ‘n afdeling spesifiek vir Alzheimer-pasiënte by Sally Martin Park is in 2009 deur mnr. John Little geïdentifiseer. Die afdeling wat bekend staan as Wander’s Village, kan 20 pasiënte huisves. Sue Janse van Rensburg is aan die stuur van die afdeling met sy 12 versorgers. In dié afdeling word veral ook aandag gegee aan stimulasie en beweging van die pasiënte na wie daar met baie liefde en deernis omgesien word.




