Local newsNews

Die eensaam mure van demensie wat my ma van my weggevat het

"Ek moes leer dat dit okay is, om nie okay te wees nie."

Vir 58 jaar was hul lewens inmekaar gestrengel. Haar ma – ‘n grondslagfase juffrou wat by die plaaslike laerskool skoolgehou het. ‘n Sterk vrou, kreatief en iemand wat graag tussen mense wou wees. Maar dit was nie die dood wat haar ma van haar weggevat het nie.

Vir die vyf jaar voor Helen Venter se dood, het haar dogter, Annelise, haar versorg. Haar werk as bestuurder van Toerisme en Ekonomiese Ontwikkelling by die Fezile Dabi-distriksmunisipaliteit bedank om voltyds na haar ma om te sien, want die wreed van die siekte van vergeet het haar ma stukkie vir stukkie weggevat.
“My ma het tot die einde my naam onthou, maar demensie het die onthou van my ma soos ek haar geken het, van my weggevat,” vertel Annelise met die hartseer wat naby lê, twee maande na haar ma se dood in Augustus op 88-jarige ouderdom.

Vir die laaste vyf jaar van hul lewe saam het Annelise roetine probeer hou.
Omgesien na die huishouding. Seker gemaak haar ma eet gesond, dat sy genoeg rus, maar die dae van lang gesprekke saam was weg. Die vermoë om sinvol te kon redeneer en eenvoudige dagtake wat haar ma skielik bevraagteken het, was van die duidelike tekens van die mure van alleen wat demensie in hul huis kom bou het.
Aan die begin kyk jy die tekens mis, vertel Annelise. Die grimmigheid, soms agressie, die moeilik wees. Haar ma het altyd ‘n moeilike geaardheid gehad, maar skielik was dit erger.

In die negentigerjare het haar ma vroeër ophou skoolgee om na háár ma te kyk vir die drie jaar wat sý siek was.
Min het Annelise, wat vroeër ook by plaaslike regering betrokke was, haar doktorsgraad in Ontwikkelings-administrasie het, en op die Pukke en Vaal Pukke kampusse dosent was, kon dink dat dieselfde situasie ook oor haar pad sou kom.

Soos haar ma, was sy die enigste kind en het by haar ma gebly nadat sy begin werk het.
Sowat 20 jaar gelede is ‘n outo-immuunsiekte by haar ma gediagnoseer, maar het haar ma ten spyte van baie pyn normaal kon funksioneer.

Tien jaar gelede het sy gehoorverlies begin kry en het haar ma se lewe in ‘n eensame wêreld verander.
“Ek het die moeilik-wees bly toeskryf aan haar moeilike geaardheid en die onttrekking weens die gehoorverlies.” vertel Annelise.

Die vergeet het die laaste twee jaar baie erg geword. Sy wou nie ouetehuis toe nie, en het verskeie kere geval en haar heup gebreek. Hoewel sy herstel het, het die loop moeilik geword.

Daarna het haar ma meestal gelê. Sy kon ook nie meer lees nie. ‘n Week voor haar dood is sy na die ouetehuis geskuif omdat die uitdaging van haar versorging net té groot en haar pyn té veel geword het.
“My ma wou haarself nooit laat toets vir demensie nie. Tog het ons geweet,” vertel Annelise.

“Op ‘n manier het haar siekte ons tyd gegee om afskeid te kon neem, maar om iemand so te verloor wat jou grootgemaak en die naaste aan jou was, is swaar. Ek was so besig om haar te versorg dat ek dikwels vasgevang was in die bang. Bang om haar te verloor. Bang om gou iewers heen te ry en haar alleen te los. Bang dat sy weer sou val. Daar was dae dat ek in opstand was. Wat ek moes leer dat dit okay is om nie okay te wees nie,” beskryf Annalise.

“Jy werk deur gevoelens van kwaad, van verwyt. Jy voel of jy wil versmoor.”

In daardie tyd het Annelise ‘n sielkundige gaan sien.

Asem geskep vir die hartseer oor haar ma se siekte in die glasskerwe van ‘n gebreekte bord, in kuns en naaldwerk, en die opleidingsmaatskappy wat sy vir entrepreneurs begin het.

“Maar die dag toe ek my ma die laaste keer gegroet het en tyd weer my eie was, het dit ‘n onbeskryflike leegheid gebring. Jy is vry om te gaan, maar skielik wil jy nêrens gaan nie.”

“Dit was net my geloof wat my staande gehou het, en ‘n vriend wat my perspektief kom gee om te besef – ek was bevoorreg om die laaste deel van die pad saam met my ma te kon stap. Toe sy op haar weerlooste was, het ek hier die Here se werk kon doen. Dit het my vrede gegee.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button