Kosbaar: Graad 1’s wens matrieks sterkte toe
'n Baie spesiale dag vir Parys se matrikulante en graad een leerders
‘n Kosbare uitreik is vanoggend by Hoërskool Parys gesien toe graad een leerders van Primêre skool Parys saam met hul juffrouens en hul skoolhoof, mnr. Jannie Erasmus, oor die pad gestap het na die Hoërskool om vanjaar se matrieks sterkte toe te wens vir die eindeksamen. Daar was ‘n spesiale briefie van die graad 1’s vir elke matriekleerder en boodskappies uit die hart om hul aan te moedig om te vertrou en net hul beste te doen.
Vir vanjaar se matrikulante was dit amptelik die laaste dag wat hulle by die skool was en het elkeen die skoolklok gelui as simboliese gebaar om die einde van hul skoolloopbaan aan te kondig. Dieselfde klok wat elkeen van hulle as graad agt groentjies gelui het.

In 2036 sal dié graad eens wat vandag opgekyk het na die matrieks om hul sterkte toe te wens, ook die klok lui wanneer hulle in matriek is.



Vir van die graad een juffrouens was vandag se uitreik selfs nog meer kosbaar met van die matrikulante wat twaalf jaar gelede as graad een leerders in hul graad 1-klasse gesit het.
Na die seremonie het die hoërskoolhoof, mnr. Pieter Janse van Rensburg die handjies geskud van die graad eens om dankie te sê vir die mooi gebaar vir die skool se matrikulante.






