Tragedie: Fietsryer sterf, kind raakgery
Die twee tragiese insidente vandeesweek het opnuut herinner dat padveiligheid almal se verantwoordelikheid is, het die Ngwathe munisipaliteit in 'n verklaring gesê waarin motoriste opnuut gevra is om padreëls na te kom en ander padgebruikers te respekteer.
In ‘n tragiese voorval gister, het ‘n 58-Jarige man van Schonkenville by die vierrigtingkruising langs die R723 (Parys/Koppiespad) gesterf, toe hy op sy fiets deur ‘n voertuig raakgery is.
Die voorval op die Parys/Schonkenville-pad, volg byna drie jaar nadat die 10-jarige Lebohang Majola, op 3 November2022 haar lewe verloor het toe sy by dieselfde kruising deur ‘n motor raakgery en op die toneel gesterf het.
Die polisie het intussen bevestig dat ‘n klag van strafbare manslag ondersoek word na gister se voorval.
Die R723 dra baie verkeer, en word daagliks ook deur heelwat voetgangers, veral ook kinders, gebruik wat tussen Schonkenville en Tumahole beweeg.
Daar is padtekens en duidelike padmerke by die kruising, en waarsku spoedhobbels motoriste ook voor die kruising om spoed te verminder.

Vroeër die week is ‘n 16-jarige skoolmeisie naby die Phehellang Secondary School in die Tumahole-woonbuurt deur ‘n taxi raakgery. Die taxibestuurder is steeds in aanhouding, en word aangekla van bestuur onder die invloed van drank, en roekelose en nalatige bestuur. Die meisie was in die Parys-hospitaal opgeneem vir behandeling, maar is reeds ontslaan, is deur haar familie bevestig.
Padveiligheid is almal se verantwoordelikheid
Die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit se burgemeesterskomiteelid vir gemeenskapsveiligheid, me. Norma Moloi, het na die twee voorvalle die afgelope week haar medelye en deernis met die families wat deur die twee voorvalle geraak is, uitgespreek.
Moloi het gesê die voorvalle herinner opnuut weer daaraan dat padveiligheid almal se verantwoordelikheid is. Terwyl voetgangers waaksaam moet wees op openbare paaie, moet motoriste ook uiterste versigtigheid aan die dag lê, het sy gesê
Wetteloosheid op paaie
Sy het veral haar kommer uitgespreek oor die verontagsaming van padverkeersreëls, motoriste wat nie hou by spoedbeperkings nie, onverskillige gedrag op paaie veral wanneer voertuie verbygevat word, en dronkbestuur, en gesê dat wetstoepassers nie die oortredings ongestraf sal laat nie.
Ondersoek
Moloi het gesê dat die munisipaliteit kennis neem van die gemeenskap se kommer oor die toenemende aantal gevalle van roekelose en nalatige bestuur op paaie binne die munisipale grense, en onveilige toestand van sommige paaie.
Moloi sê opdrag is gegee vir volledige ondersoek na die voorvalle wat gerapporteer is om waar mense skuldig sou wees, hulle tot verantwoording te bring.
Sy sê die Ngwathe verkeersdepartement sal voortgaan om wetstoepassing en sigbaarheid op paaie te verskerp, en werk nou saam met skole, gemeenskapstrukture, en vervoeroperateurs om veiliger gedrag op paaie te bevorder.
Sy het n beroep op inwoners van Ngwathe gedoen om paaie gedissiplineerd, en verantwoordelik te gebruik, en gevra dat mense respek vir die lewens van ander sal hê wanneer daar op paaie beweeg word.
Moloi het ook opnuut die munispaliteit se verbintenis tot veiligheid van sy inwoners beklemtoon.



