Bek- en Klouseer brei uit in die Vrystaat: Waaksaamheid nou krities
Hoewel mense nie die siekte kan kry nie, word dit versprei deur voertuie, klere, hande en voete wat in aanraking was waar daar besmetting is.
Die Departement van Landbou het Vrydag tydens ‘n Gesamentlike Operasionele komitee-vergadering (JOC) oor Bek-en-klouseer, bevestig dat Sasolburg as ’n nuwe Bek- en Klouseer (BKS) gebied verklaar is, terwyl die Viljoenskroon/Vredefort-gebied ’n geval in Parys aangemeld het. In Kroonstad word nog gewag op die uitslag van ’n verdagte geval, terwyl verskeie ander reeds negatief getoets het, het Vrystaat Landbou vanoggend in ‘n verklaring gesê.
Die tweede rondte van inentings behoort volgende week in sekere gebiede afgehandel te wees, het die organisasie bevestig.
’n Plaas se kwarantyn kan eers ses weke ná volledige uitslag en ontsmetting opgehef word — soos onlangs in Deneysville die geval was, het die organisasie gesê .
Sedert die 2022-uitbraak en die huidige toename in gevalle, is duisende dosisse entstof reeds in die Vrystaat toegedien. Die Departement van Landbou het bevestig dat geen newe-effekte van die entstof tot dusver aangemeld is nie.
Volgens Friedl von Maltitz, vise-president van Vrystaat Landbou, het die organisasie reeds verlede jaar voorgestel dat vee wat oor provinsiale grense vervoer word, slegs met ’n veeartspermit en nie bloot met ’n eienaarsverklaring geskuif mag word nie. Hy sê die Departement
het kennis geneem van die voorstel, maar daarop gewys dat die tekort aan staatsveeartse die implementering daarvan tans bemoeilik, veral in kombinasie met die inentingsproses.
Die Viljoenskroon-gebied bly die ergste geraak, met 25 bevestigde gevalle en nog 15 moontlike wat in die rigting van Vredefort versprei.
Aanmelding en beheer van kritiese belang
Gebiede waar nuwe gevalle aangemeld word, toon dat boere hul plig nakom deur vinnig aan te meld, wat help om verspreiding onder beheer te bring.
“Boere wat nie die simptome van Bek- en Klouseer betyds aanmeld nie, stel die opheffing van kwarantyn ernstig in gevaar en verhoog die risiko van verdere besmetting,” sê Von Maltitz.
Hy beklemtoon dat boere daagliks hul vee moet monitor en onmiddellik enige moontlike tekens van BKS moet rapporteer. “As ’n boer vermoed ’n dier is besmet, kan hy eenvoudig ’n foto of video aan sy plaaslike veearts of dieregesondheidstegnikus stuur,” verduidelik Von Maltitz. “Op dié manier beskerm ons kritiese mannekrag en help elke boer om die Vrystaatse veesektor te beskerm.”
Vrystaat Landbou het weer ‘n ernstige broep gedoen op boere om waaksaam te bly en volledig saam te werk met die Departement van Landbou in die poging om die uitbreking te beheer en verdere verspreiding te voorkom.
Wat is Bek-en-klouseer:
Bek-en-klouseer word deur ‘n virus veroorsaak by diere met gesplete hoewe soos beeste, skape, varke en bokke.
Simptome
Tipiese simptome is lusteloosheid, sere in die bek en aan die pote en oormatige afskeiding van speeksel.
Mense kan nie Bek-en-klouseer kry nie, maar dit versprei deur voertuie, klere, hande en voete as jy met besmette diere in aanraking was.



