Local newsNews

Bek-en-klou: Biosekuriteit in Vaal Eden verskerp

Die oponthoud met Bek-en-klou toetsuitslae veroorsaak tans groot uitdagings nie net vir boere wat geraak word nie, maar ook buurplase wat aan beheerregulasies onderwerp word omdat vee nie geskuif of verkoop kan word totdat toetsuitslae bekend is en ondersoeke afgehandel is.

Permanente biosekuriteitbeheerpunte is reeds by alle ingangsroetes na die Vaal Eden-distrik in plek as voorsorgmaatreël teen die verspreiding van Bek-en-Klouseer in die Vrystaat-provinsie.  Dit sluit in die R59 by die Vaal Eden-afrit, die S272 by die Bon-Af Bessieplaas, en vanaf die Barrage na Vaal
Eden.

Die biosekuriteitsbeheerpunte behels dat alle voertuie wat die gebied inkom, gestop en met ontsmettingsmiddel gespuit word in ‘n
daadwerklike poging om verspreiding van die siekte na die gebied te keer. Die besluit is deur boere en ander rolspelers in die distrik geneem na ‘n vergadering wat  deur die Vaal Eden-gemeenskap, onder die vaandel van Landelike Gemeenskap Veiligheid (LGV), gehou is.

“Die Departement van Landbou het Vrydag tydens ‘n Gesamentlike Operasionele komitee-vergadering (JOC) oor Bek-en-klouseer, bevestig dat Sasolburg as ’n nuwe Bek- en Klouseer (BKS) gebied verklaar is, terwyl die Viljoenskroon/Vredefort-gebied ’n geval in Parys aangemeld het. In Kroonstad word nog gewag op die uitslag van ’n verdagte geval, terwyl verskeie ander reeds negatief getoets het,” het Vrystaat Landbou vanoggend in sy  verklaring gesê.

Die Viljoenskroon-gebied bly die ergste geraak, met 25 bevestigde gevalle en nog 15 moontlike gevalle wat in die rigting van Vredefort versprei, sê Vrystaat Landbou.

Die tweede rondte van inentings behoort volgende week in sekere gebiede afgehandel te wees, het die orgaisasie verder bevestig.

Teen 9 Oktober was daar alreeds 42 gevalle van die siekte in die provinsie wat amptelik deur die Vrystaatse Departement van Landbou bevestig was, en is die kommer dat die omvang groter kan wees weens die vertraging in toetsuitslae en die amptelike bekendmaking van statistiek.

Vrystaat Landbou het ook vanogged opnuut gewaarsku dat waaksaamheid nou kritiek is, en ‘n beroep op boere en die gemeeskap gedoen om volledig saam te werk met die Departement van Landbou in die poging om die uitbreking te beheer en verdere verspreiding te voorkom.

Volgens die organisasie se vise-voorsitter, Friedl von Maltitz, het Vrystaat Landbou reeds verlede jaar voorgestel dat vee wat oor provinsiale grense vervoer word, slegs met ’n veeartspermit en nie bloot met ’n eienaarsverklaring geskuif mag word nie. Hy sê die Departement het kennis geneem van die voorstel, maar daarop gewys dat die tekort aan staatsveeartse die implementering daarvan tans bemoeilik, veral in kombinasie met die inentingsproses.

Von Mattitz het gemaan dat boere wat nie die simptome van Bek- en Klouseer betyds aanmeld nie, die opheffing van kwarantyn ernstig in gevaar stel, en die risiko van verdere besmetting verhoog., Hy het beklemtoon dat boere daagliks hul vee moet monitor en onmiddellik enige moontlike tekens van BKS moet rapporteer. “As ’n boer vermoed ’n dier is besmet, kan hy eenvoudig ’n foto of video aan sy plaaslike veearts of dieregesondheidstegnikus stuur,” het Von Maltitiz gesê.

Von Maltitz het egter ook benadruk dat gebiede waar nuwe gevalle aangemeld word, toon dat boere hul plig nakom deur vinnig aan te meld, wat help om verspreiding onder beheer te bring.

“Op dié manier beskerm ons kritiese mannekrag en help elke boer om die Vrystaatse veesektor te beskerm.,” het hy gesê.

 

Inenting

Die departement van landbou prioritiseer tans vaksinering op plase waar daar besmetting is om virale lading te verminder, en verspreiding van die virus te keer. Bewegingsbeperking word ook ingestel binne ‘n 10km radius van plekke waar beken-klouseer besmetting is.

Plase waar daar besmetting is word onder kwarantyn geplaas, terwyl plase binne ‘n 10km radius in kennis gestel word van die besmetting en ook onder voorkomende kwarantyn geplaas word totdat die departement se ondersoeke afgehandel is.

Hou by regulasies

Wat belangrik is, is dat mense moet let daarop dat die vervoer van diere wat onder kwarantyn is, sonder die nodige dokumentasie, ‘n kriminele oortreding is.

Volgens Wynn Dedwith, van die Wynnwith Melkplaas is uitbrake wat nou landwyd gesien word, ongekend. Hy sê hoewel die land veral in die noorde rooigebiede het waar die siekte voorkom, is dit in al die jare nooit verspreid oor soveel provinsies gesien sedert hy en sy voorouers van die 1900’s in die boerderybedryf is.

Samewerking by beheerpute

Dedwith sê biosekuriteitsbeheer het oor en oor bewys dat dit effektief is om die verspreiding van die siekte te help keer, en wil boere in die Vaal Eden-distrik daarom voorkomend optree. Pieter Kemp van LGV het ook ‘n beroep op mense gedoen om hul samewerking by beheerpunte te gee.

Biosekuriteit maatreëls tee die verspreidijg van bek en klouseer.
Een van die biosekuriteit beheerpunte in die Vaal Eden-distrik.
Geen gevaar vir mense

Vleis en melk van besmette beeste hou  geen gevaar vir mense in nie. Mense kan ook nie bek-en-klouseer kry
nie, maar kan dit versprei deur voertuie, klere, hande en voete as jy met besmette diere in aanraking was.

Simptome

Tipiese simptome van bek-en-klouseer is kusteloosheid, sere in die bek en aan die pote en oormatige afskeiding van speeksel.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button