Local newsNews

Word ’n erfenisbewaarder in jou gemeenskap

Die toestand en bewaring van historiese begraafplase wek kommer en spreek die kursus 'n groot behoefte aan vir mense wat iets daadwerklik wil doen om 'n verandering te bring.

Die Erfenisstigting (ES) het sy reeks aanlyn opleidingsgeleenthede uitgebrei met die bekendstelling van sy tweede erfeniskursus, “Versorg ons historiese begraafplase”.
Dit volg op die baie gewilde “Museum vir elke huis”-kursus wat vroeër vanjaar
bekendgestel is.

Die nuwe kursus fokus op die bewaring van begraafplase as kulturele en historiese
landskappe wat elk ’n unieke storie vertel, en rus deelnemers met praktiese kennis
en vaardighede toe om ’n aktiewe rol in erfenisbewaring in hul gemeenskappe te
speel.

Volgens Lizette Jansen, ES-bestuurder en kursussamesteller, is hierdie terreine deel van ons kollektiewe geheue en identiteit. “Begraafplase is kulturele en historiese landskappe wat nie net stories oor oorledenes vertel nie, maar ook oor die gebeure wat Suid-Afrika gevorm het.

Dit is belangrik om na dié erfenis om te sien omdat dit deel vorm van ons identiteit, kulturele trots bevorder en ons regstreeks aan ons herkoms verbind,” sê sy.

Dié selfgeleide, gebruikersvriendelike aanlyn kursus bestaan uit drie modules wat temas soos die begraafplaas as kulturele landskap, volkskuns en simboliek op erfenisgrafte, wetgewing, identifisering van skade, basiese versorging en algemene slaggate onder die loep neem. Elke module sluit ’n taak in wat deelnemers aanmoedig om hul kennis prakties toe te pas.

Leonie Marais, erfenisspesialis by die Kultuurtuiste, verduidelik hoe dié kennis in die
praktyk werk. “Erfenisgrafte val onder die erfeniswet en moet met groot omsigtigheid
hanteer word. Die kursus leer deelnemers om eers waar te neem en deeglik te dokumenteer voordat enige werk gedoen word. Selfs goedbedoelde pogings kan
skade veroorsaak as verkeerde metodes gebruik word, daarom is deeglike
dokumentering en kundige leiding die kern van goeie bewaringspraktyk.”

Dawid Brand, bedryfshoof van media en bemarking by die Kultuurtuiste, sê die
aanlyn formaat maak erfenisbewaring toegankliker as ooit. “Deur dié kennis tot almal
se beskikking te stel, help om erfenisbewaring op gemeenskapsvlak te bevorder.

Historiese begraafplaas
Die onderhoud en bewaring van historiese begraafplase wek groot kommer. Foto: Verskaf

Hoe meer mense verstaan hóé om na ons geskiedenis om te sien, hoe beter kan
ons die fisieke en kulturele waarde daarvan beskerm,” sê hy.

Volgens Jansen is dít juis die doel van die ES se aanlyn kursusse. “Erfenisbewaring is nie net bewaringsinstellings se verantwoordelikheid nie. Wanneer gemeenskappe self moue oprol, maak ons mekaar se hande sterker en verseker ons dat ons erfenis vir die volgende geslag behoue bly en geslagte se stories voortleef,” sê sy.

Vir meer inligting of om vir die kursus in te skryf, besoek  https://es.org.za/erfeniskursusse/ of stuur ’n e-pos na lizette@kultuurtuiste.org.za

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button