Motoriste gewaarsku oor paaie met toenemende stormwaarskuwings
Nog reën word vir die naweek voorspel en is motoriste gemaan om uiters versigtig te bestuur.
Met voortdurende berigte van strawwe weerstoestande dwarsdeur Gauteng – insluitend oorstroomde paaie, ontwortelde bome, verspoelde brûe en aanhoudende reën – doen die Motor Industry Workshop Association (MIWA), ’n beroep op motoriste om uiters versigtig te bestuur.
Die SA Weerdiens het daarop gewys dat dele van Suid-Afrika tans een van die natste Novembers in jare ervaar, met versadigde grond wat die risiko van kitsvloede, vinnig stygende water en vallende bome verhoog.
“Die toestande oor Gauteng versleg, en ons ontvang verskeie berigte van oorstroomde paaie, beskadigde infrastruktuur en motoriste wat vasgekeer raak,” sê Dewald Ranft, voorsitter van MIWA. “Swaar reën verminder sigbaarheid drasties, maak padoppervlaktes glad en verhoog die gevaar van hidroplaning aansienlik. Dít is nie die week om kanse op die pad te waag nie.”
Ranft sê nat paaie verminder greep, verleng stopafstande en verhoog die risiko vir jou voertuig om te gly. Die kombinasie van swaar buie, verstopte stormwaterdreine en verswakte grond ná volgehoue reën het ook tot meer slaggate gelei.
Om deur vloedwater te ry, bly een van die grootste gevare. “Ons sien steeds toenemend hoe motoriste probeer om oorstroomde lae-brûe en kruisinge oor te steek. Hy verwys na die voorbeeld van ’n motoris in Pretoria wat naelskraaps verdrinking vrygespring het toe sy bakkie by die Wonderboom-brug afgestort het
Net 30 cm vinnig-vloeiende water kan ’n voertuig van die pad of ’n brug af spoel,” waarsku Ranft. “Jy kan nie sien in watter toestand die pad onder die water is nie, en baie voertuie vrek wanneer water die enjin binnedring.
Beplan jou roete en maak vooraf seker of roetes begaanbaar is.
Waardevolle wenke
-
Vermy vloedgevoelige roetes – Volg opdaterings van owerhede en gebruik navigasie-toepassings wat aanduidings gee van waar paaie gesluit is.
-
Ry stadig en verleng jou volgafstand – Nat paaie vereis veel langer stopafstande.
-
Gebruik jou hoofligte op dimstraal om sig te verbeter en ander padgebruikers te help om jou betyds te kan sien.
-
Vermy skielike bewegings – Rem liggies en stuur glad om te verhoed dat jy gly.
-
Wees versigtig vir plaswater – Dit kan slaggate, sinkgate, los takke of ander gevare verbloem.
-
Gaan jou bande na – Goeie loopvlak is noodsaaklik vir greep op nat paaie.
-
Inspekteer jou ruitveërs – Vervang dit onmiddellik as dit strepe laat of spring.
-
Wees op die uitkyk vir omgevalle bome en elektriese drade – Rapporteer gevare aan die owerhede en vermy kragdrade wat sou val.

Wat om te doen as jy in stygende water vasgekeer is
“As jou voertuig in vinnig stygende water vasgevang word, moet jy daarop fokus om jouself na veiligheid te bring, nie om die voertuig te red nie,” sê Ranft. Maak jou veiligheidsgordel los, maak ’n venster so vroeg as moontlik oop en klim uit die voertuig. As die druk die deure moeilik maak om oop te kry, wag totdat die watervlak stabiliseer voordat jy probeer uitkom.
“Moet nooit probeer om jou motor uit diep water te stoot nie – vinnig-vloeiende water is onvoorspelbaar en uiters gevaarlik,” voeg hy by.
Ranft beklemtoon dat voorkoming van kardinale belang is: “Maak seker jou voertuig is padwaardig, hou jou ligte en ruitveërs in goeie werkende toestand, en vermy alle oorstroomde paaie. Met verdere strawwe weer wat voorspel word, is die veiligste opsie om reis waar moontlik uit te stel.”



