Local newsNews

Bewarea-ondervoorsitter se passie vir die Koepel

Bewaring begin by respek vir die plek waar jy woon. As ons die Vredefort Koepel met daardie liefde en respek benader, sal hierdie buitengewone Wêrelderfenisgebied nog vir geslagte voortleef. So gesels Nicolette van Brakel, ondervoorsitter van die Vredefort Koepel Bewarea.

“Ek haal asem as ek buite in die natuur kan rondbeweeg, en staan in verwondering oor dit wat ek sien, hoor en beleef.” So gesels Nicolette van Brakel, ondervoorsitter van die Vredefort Koepel Bewarea. Nicolette woon sedert 2015 in die Vredefort Koepel, maar haar bande met die area lê diep.

As kind het sy gereeld in Potchefstroom by haar familie, dr. Alfons Raats-hulle, kom kuier. Later studeer sy aan die Noordwes-Universiteit se Potchefstroom-kampus, en trou sy uiteindelik ook met ‘n Potchefstromer, Johan van Brakel.

Dit was dus onafwendbaar dat sy uiteindelik sou terugkeer na hierdie besondere deel van die wêreld – ‘n plek waar die natuur, die geskiedenis en die gemeenskap so nou verweef is.
“Vandag is dit ‘n voorreg om saam met my gesin op ons grond langs die Vaalrivier te bly, waar ek my droom uitleef om in die natuur te bly én aktief by te dra tot die bewaring daarvan,” sê Nicolette.

‘n Agtergrond in natuurbewaring

Nicolette het vir ses jaar by SANParke as sosio-ekoloog gewerk, gevolg deur vyf jaar by FGASA (die Field Guides Association of Southern Africa) as operasionele bestuurder. “Hierdie werk
het my geleer hoe kosbaar elke organisme in die natuur is – en hoe noodsaaklik dit
is om gemeenskappe deel te maak van bewaringsinisiatiewe,” vertel sy.

Passie vir die Vredefort Koepel

Vandag is die Koepel nie net ’n venster na die aarde se verre verlede nie, maar ook ’n toevlug vir ongelooflike biodiversiteit.

Die unieke geologiese vorming het ’n verskeidenheid mikroklimate en habitatte geskep waar talle plant- en dierspesies floreer – van grasveld en bosveld, tot rotsagtige kranse en rivierlope. “As Wêrelderfenisgebied dra die Vredefort Koepel ’n besondere verantwoordelikheid; om hierdie natuurlike en wetenskaplike skatte te beskerm,” vertel Nicolette.

“Die Vredefort Koepel herinner my aan ons planeet se krag én broosheid en die noodsaaklikheid om dit met respek, kennis en volhoubare bestuur te beskerm,” sê sy.

Haar lewensfilosofie is vervat in die woorde van Baba Dioum (1968): In the end, we will conserve only what we love, we will love only what we understand, and we will understand only what we have been taught. “Hierdie aanhaling is vir my ’n padkaart. Ons kan net bewaar wat ons verstaan en waardeer,” sê Nicolette.

Deel van die Bewarea-bestuurspan

Bewusmaking is vir Nicolette ’n kernfokus binne die Bewarea – om inwoners en besoekers te help om die geologie, geskiedenis en biodiversiteit van die Koepel beter te leer ken, te verstaan en te waardeer, sodat hulle self ambassadeurs vir hierdie Wêrelderfenisgebied sal wees.

As ondervoorsitter van die Vredefort Koepel Bewarea werk sy saam met ’n toegewyde span mense wat almal dieselfde doel deel – om die ekologiese en kulturele integriteit van die Koepel te beskerm en te bevorder.

Biddie Biddulph en Nicolette van Brakel, voorsitter en ondervoorsitter van die Vredefort Koepel Bewarea.
Dr. Biddie Biddulph (voorsitter van die Vredefort Koepel Bewarea) en Nicolette van Brakel (die nuutgekose ondervoorsitter van die Bewarea).

Die Bewarea funksioneer as ’n gemeenskapsorganisasie wat deur vrywilligers gedryf word.

“Ons fokus op bewaring, opvoeding, betrokkenheid en volhoubaarheid, en glo dat elke inwoner, boer en besoeker ’n rol het om te speel in die beskerming van hierdie wêreldkosbare
gebied,” sê sy.

“Bewaring begin by respek vir die plek waar jy woon. As ons die Vredefort Koepel met daardie liefde en respek benader, sal hierdie buitengewone Wêrelderfenisgebied nog vir geslagte voortleef.”

Kersmark

Een van die projekte wat Nicolette met groot entoesiasme lei, is die Koepel Kersmark, wat hierdie naweek op 29 November by Venterskroon Inn plaasvind.

Dit is een van die Bewarea se groot gemeenskapsgeleenthede en ’n manier om mense bymekaar te bring rondom die gees van samehorigheid en die passie vir die streek te deel. Die dag begin met ’n bergfietswedren, gevolg deur ’n boereorkes, heerlike eetgoed en gesellige stalletjies waar besoekers sommer vroeg met hul Kersinkopies kan begin.

Dit is egter nie die eerste projek waaraan Nicolette werk nie. Sy was ook betrokke by verskeie uitstappies, praatjies en opvoedkundige aktiwiteite wat daarop gemik is om mense en die natuur nader aan mekaar te bring.

Die Bewarea beoog nog heelwat van hierdie projekte in 2026.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button