Local newsNews

Ses dinge wat jy moet saamvat as jy dié vakansie op die pad gaan wees

Soms kan 'n paar hulpmiddels in jou motor jou lewe red in 'n noodgeval.

Soos gesinne regoor Suid-Afrika begin voorberei vir die jaarlikse feesseisoen-wegbreek, het meeste hul motors laat nagaan vir die lang pad wat voorlê, maar wat as die onverwagte gebeur? Wat as jy jouself in ’n afgeleë area bevind, ver van hulp, sonder onmiddellike toegang tot water, beskutting of batterykrag?

Volgens Juan Hanekom, Nasionale Direkteur van die South African Motor Body Repairers’ Association (SAMBRA),  is dit presies die oomblik wanneer die minder voor-die-handliggende noodsaaklikhede ’n groot verskil kan maak.

“Die meeste mense sorg vir die meganiese basiese dinge voordat hulle reis, wat bemoedigend is,” sê Hanekom. Maar padveiligheid beteken ook om vir die onvoorspelbare voor te berei.

Hierdie vyf dinge moet jy saamvat as jy dié vakansie op die pad gaan wees:

1. Volgelaaide kragbank en kabels

Jou selfoon is jou lewenslyn in enige noodgeval, maar ’n pap battery kan jou heeltemal afgesny laat. ’n Hoë-kapasiteit kragbank verseker dat jy noodoproepe kan maak, en selfs toegang tot jou bankkaarte kan hê in nood.

2. Noodkombers of warm klere en ‘n noodhulpkissie

Selfs in gewoonlik warm gebiede daal temperature vinnig ná sononder. As jy langs die pad vasval en moet wag vir hulp, kan ’n termiese kombers of warm klere, veral vir kinders en ouer passasiers,  of enige iemand wat kwesbaar is vir die koue, baie help. Hou ook ‘n basiese noodhulpkissie in jou motor en gaan dit gereeld na.

3. Watersuiweringstablette of ’n kompakte waterfilter

Alhoewel gebottelde water belangrik is, hou dit nie vir altyd as jy vir ’n lang tyd vasgekeer is nie. Suiweringstablette of ’n draagbare filter maak dit moontlik om water drinkbaar te maak – ’n onontbeerlike beskerming teen dehidrasie in afgeleë of landelike gebiede.

4. Fluitjie en reflektiewe waarskuwingstoestelle

’n Fluitjie dra verder as jou stem en kan aandag trek wanneer jy nie kan skree nie. Reflektiewe driehoeke sorg dat jou voertuig sigbaar is vir ander padgebruikers, veral snags of in swak sigtoestande, wat die risiko van ’n tweede ongeluk verminder.

5. Draagbare motorbatterylaaier/kragpak

Al is batterykabels vir jou motor nuttig, is jy afhanklik daarvan dat ’n ander motoris sal stop om te help. ’n Draagbare motorbatterylaaier is ’n onafhanklike oplossing wat jou battery binne minute kan laai – selfs as jy heeltemal alleen is.

6. Klein ekstra’s wat ’n groot verskil maak

Kleefband, kabelbinders, multi-gereedskap en ’n kompakte bandpomp of seëlmiddel kan kleiner probleme op die plek oplos, tyd spaar en verdere skade voorkom.

Hanekom beklemtoon dat feesseisoenpaaie onvoorspelbaar kan wees, met hoë temperature, lang afstande en verhoogde verkeer. Maak daarom seker jy doen alles moontlik om jou veiligheid te verseker.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button