Danie se geloof was sy anker
Danie se nalatenskap leef voort in die lewens wat hy aangeraak het.
Danie Cronje, bekende sakeman van Parys, sal onthou word as ‘n man wat ‘n reguit pad geloop het. Sy geloof in God was sy anker, en het hy daarna gestreef om sy lewe en ook sy besigheid volgens Bybelse beginsels te rig.
Sy getuienis, ervaring en kennis van besigheid het hy graag met ander gedeel.
Danie is op 24 November in die ouderdom van 68 jaar oorlede na ‘n stryd met pankreaskanker wat in Augustus 2024 by hom gediagnoseer is.
Ten spyte van chemo, bestraling en terugslae was hy nog bevoorreg om verskeie hoogtepunte te beleef. In Februarie vier hy sy 50 jaar reünie saam met sy 1975-klasmaats en klasonderwyser, mnr. Hennie Stander.
Op 9 Augustus – op sy verjaarsdag, bring hy sy oudste dogter, Danelle, in vir haar troue, en is nog sterk genoeg vir die Pa-Dogter dans. Hy kon ook nog sy jongste dogter, Martine, se 30ste verjaarsdag vier.
In September het hy vir oulaas saam met sy gesin in die Krugerwildtuin gekamp – iets wat hy die afgelope 30 jaar nooit gemis het nie.

Danie is in Port Elizabeth gebore en verhuis op driejarige ouderdom saam met sy ouers na Parys waar sy pa, Vos Cronje, die Wol en-Vellestoor oorkant die Potchefstroom-brug begin het.
Hy het sy hele skoolloopbaan in Parys voltooi en sluit sy hoërskoolloopbaan in 1975 af as hoofseun.
Hy behaal die graad, BAgric (met lof) aan die Universiteit van die Vrystaat met veekunde as sy hoofvak. Daarna sluit hy as landboukundige by die Departement van Korrektiewe Dienste aan.
Na drie jaar word hy bevorder tot luitenant en skuif na hoofkantoor waar hy verantwoordelik is vir die inspeksie van al die plase onder Korrektiewe Dienste in die destydse Transvaal-streek.
In 1982 is Danie met Trudie getroud. Hulle was klasmaats en saam hoofseun en hoofdogter.
In 1985 vestig hy hom weer in Parys en is hy by verskeie besighede betrokke waaronder Osprey Marketing waarvan hy die afgelope 26 jaar die eienaar was.
In 2006 word ‘n groot droom bewaarheid toe hy plaasgrond koop in die Koppies- distrik waar hy sy Santa Getrudis stoet vestig.
Hy het altyd gesê hy boer met gras en het al hoe meer gefokus op regeneratiewe beginsels vir volhoubare boerdery.
Danie het ‘n sterk basstem gehad en was ook lid van die Vrystaatse Jeugkoor, en later ook Deo Gloria koor.
Sy vrou, Trudie, dogter Danelle, skoonseun Heindrich Havenga-Cronje en dogter Martine, sê dankie aan almal vir die omgee, gebede en meelewing gedurende Danie se siekte en afsterwe.



