Taalontwikkeling en jou baba
Babas leer taal voor hul leer praat en moet van jongs af al baie taal hoor.
Dit mag vreemd voel om met iemand te praat wat nog nie verstaan wat jy sê nie en boonop ook nie oud genoeg is om self te leer praat nie, maar dis geweldig belangrik om dit wel te doen. Die rede hiervoor is dat babas ’n taal baie gereeld moet hoor sodat hulle mettertyd daardie taal se unieke spraakklanke en ritmes kan leer ken.
Babas wat genoeg taal hoor, maak op die ouderdom van 8 tot 9 maande ’n belangrike ontdekking
Babas beleef mense se spraak aanvanklik as ’n onverstaanbare stroom aaneenlopende spraakklanke. Maar, as hulle ’n taal gereeld hoor begin hulle mettertyd verwag om sekere spraakklanke aan die begin of einde van woorde te hoor.
So leer Afrikaanse babas byvoorbeeld dat sekere spraakklanke (soos “bl-“, “ka-” en “sl-“) omtrent altyd aan die begin van woorde voorkom, terwyl ander (soos “-ing” en “ -lik”) gewoonlik aan die einde van woorde voorkom.
*Om hierdie punt te illustreer, dink aan woorde soos “blou,” “blok,” “blaas,” “blink,” “blaf” en “blom” wat almal met dieselfde klankkombinasie begin, en “sing,” “ding” en “ring” wat almal op dieselfde klankkombinasie eindig. Aan die ander kant, aan hoeveel woorde kan jy dink wat op “-bl” eindig, of met “-ing” begin?
So begin babas om woorde in sinne te herken
Dis ’n baie belangrike deurbraak omdat babas wat woorde in sinne kan hoor vinnig agterkom watter woorde baie gebruik word. En hulle lei dan blitsvinnig uit die konteks af wat dié sleutelwoorde beteken. Dit lei tot ’n ontploffing in hul begrip.(2)
Taalvaardigheid groei met ’n sneeubal-effek.
Sodra babas leer wat die belangrike, mees algemene, woorde in ’n taal beteken, gebruik hulle dié insig om meesters in die kuns van afleiding te word. Met elke nuwe sleutelwoord wat hulle leer, word dit statisties vir hulle al makliker om ander, minder belangrike, woorde ook te leer verstaan.
Hulle gebruik die woorde wat hulle reeds ken as leidrade om die betekenis van nuwe woorde uit te werk, en staaf hul vermoedens deur ook te let op die konteks en die spreker se nieverbale kommunikasie.
Babas wat baie taal hoor ontwikkel dus ’n groot voorsprong wat taalontwikkeling betref
Die somtotaal van al die taal wat hulle van geboorte af (en selfs vóór geboorte) hoor kulmineer op die ouderdom van 8 tot 9 maande om ’n ontploffing in hul taalbegrip te veroorsaak.
Wenke:
’n Radio of televisie in die agtergrond help nie.
Dit klink op die oog af na ’n goeie plan om babas na ’n radio te laat luister of hulle te laat televisie kyk om dit vir ons makliker te maak om te verseker dat hulle baie taal hoor, maar een-tot-een sosiale interaksie is nodig. Die menslike brein begin om klanke wat nie in ’n sosiale konteks gehoor word nie as agtergrondgeluide te ignoreer.
Meer nog, navorsers wat bandopnames gemaak het, sê ouers en kinders praat heelwat minder met mekaar wanneer ’n televisie op die agtergrond aan is – selfs wanneer niemand daarna kyk nie.
* Die aantal woorde wat hulle in ouerhuise getel het, het met meer as 50% afgeneem nadat ’n televisie in die agtergrond aangeskakel is.(4)
Fokus op selfspraak en parallelle spraak
Navorsers sê babas se taalontwikkeling kry ’n groot hupstoot wanneer hul ouers en versorgers selfspraak en parallelle spraak as ’n geselsstyl gebruik. Dit het nie net ‘n positiewe invloed op die grootte van hul groeiende woordeskat nie, maar ook op hul intellektuele ontwikkeling.
Selfspraak behels om hardop te praat oor wat jy doen, sien, hoor, en voel, terwyl parallelle spraak beteken dat ’n mens hardop praat oor wat die kind doen, sien, hoor, of voel.
Beplan om alledaagse situasies te benut
Maak ‘n lys van ervarings wat julle daagliks saam beleef en beplan vooraf hoe jy selfspraak en parallelle spraak in elkeen van daardie situasies kan gebruik.
Byvoorbeeld: tydens badtyd, gedurende speeltyd, in die motor, terwyl jy saam met jou baba deur ‘n prenteboek blaai, ‘n doek omruil, op ‘n kombers in die tuin sit, of met die hond speel.
Vra jouself die volgende vrae af:
- Watter gebeure sou jy in elkeen van julle alledaagse interaksies vir jou baba kan beskryf?
- Watter teikenwoorde wil jy in die verskillende situasies beklemtoon en herhaal?
- Wat kan jy doen om die baba se aandag te fokus op wat jy sê om te verseker dat hy of sy soveel as moontlik voordeel trek uit die taalblootstelling.
- (Hierdie artikel is namens die AON deur Lizette van Huyssteen van die Practica Program geskryf en met vergunning op Afrikaans.com geplaas.)



